Michael Douglas se aanhangers het met ’n petisie begin om hom te help om sy seun in die gevangenis te besoek.

Die ster van Behind the Candelabra wil bitter graag sy oudste seun, Cameron Douglas, sien. Cameron word in eensame aanhouding in die Federale Korrektiewe Instelling in Cumberland, Maryland, vir ’n dwelmoortreding aangehou.

Die aktivis Tony Papa van die Alliansie vir Dwelmbeleid, Cameron se advokaat, het die petisie op Change.org begin. Hy glo Michael (68) word onregverdig vir sy seun se dwelmverslawing gestraf.

Hy het aan die skinderwebtuiste RadarOnline.com gesê: “Michael het aanvanklik sy seun verkwalik vir die gemors waarin hy beland het. Nou bevraagteken hy die buro vir gevangenisse oor hoekom hy sy seun twee jaar lank nie kan besoek nie. Aanhouding word nie net tot die tronkmuur beperk nie. Dit het ’n ernstige invloed op die gesinslede en geliefdes van die gevangenes. Michael Douglas word vir sy seun se dwelmverslawing gestraf.”

Michael het verlede maand die Amerikaanse gevangenisstelsel bygekom in sy bedankingstoespraak by die Emmys. Hy het gesê: “As jy ’n oortreding begaan – dis ’n gevangene wat nie gewelddadig is nie, soos omtrent ’n halfmiljoen dwelmverslaafde gevangenes – straf hulle jou.

“My seun was byna twee jaar in eensame aanhouding, en nou moet ek hoor ek kan hom nog twee jaar lank nie sien nie.”

Cameron (34) is in 2009 vyf jaar gevangenisstraf opgelê vir die besit van heroïen en sameswering om dwelms te versprei. Die vonnis is in 2011 met vier en ’n half jaar verleng omdat hy in die tronk dwelmoortredings begaan het. Hy word na verwagting nou eers in 2018 vrygelaat.

Cameron se ma is Diandra Luker.