Michael Douglas hoop hy en sy vrou, Catherine Zeta-Jones, kan hul huweliksprobleme uitstryk.

Die akteur (69) en sy vrou (44) het in Augustus ’n tydelike “blaaskans” van hul huwelik van 13 jaar geneem. Maar die Behind the Candelabra-ster, wat twee kinders, Dylan, (13) en Carys (10), by die aktrise het, meen die egpaar se toekoms is rooskleurig.

Hy het gesê: “Ek wil graag my huweliksprobleme op ’n positiewe wyse oplos.”

Michael se oudste seun, Cameron (34), by sy eksvrou, Diandra Lucker, word tans vir dwelmoortredings in eensame afsondering in die tronk aangehou, en die Wall Street-ster meen hy het ’n strawwer vonnis gekry omdat sy pa beroemd is.

In ’n onderhoud met die Amerikaanse GQ, wat hom as Diva van die jaar aangewys het, het Michael gesê: “Hulle het hom ’n bykomende vier en ’n half jaar by sy vonnis gegee (nadat hy in die tronk met dwelms betrap is) en hom 11 maande in afsondering geplaas, en geen familiebesoeke vir twee jaar.

“(Die ekstra vonnis) is by verre die langste in die geskiedenis van die Amerikaanse strafstelsel. Jy sal die regter moet vra hoekom. Hulle wil nie hê (regters) moet lyk of hulle ’n wit kind sag behandel wie se ouers bekendes is nie.”