Michael Douglas gaan later vandeesmaand ’n trofee by die Emmy-prysuitdeling oorhandig.

Daar is Dinsdag aangekondig dat Michael en sy Behind the Candelabra-medester Matt Damon die eerste oorhandiging by vanjaar se seremonie sal behartig. Die ster van dié fliek het onlangs ontken dat sy huwelik met die Walliese aktrise Catherine Zeta-Jones “in ’n krisis” is.

Michael en Matt is ook albei benoem vir die prys van voortreflike hoofrolspeler in ’n minireeks of rolprent vir hul rol in die HBO-rolprent oor die flambojante pianis Liberace en sy verhouding met Scott Thorson. Die fliek het altesaam 15 benoemings gekry.

Michael (68) is besig om die rolprent te bemark en het onlangs gesê dit gaan goed met sy huwelik, ten spyte daarvan dat hy bevestig het dat hy en Catherine “tydelike uiteen” is.

Die egpaar, wat in 2000 op ’n spoggeleentheid in die Manhattan Plaza-hotel in New York getroud is en die ouers is van Dylan (13) en Carys (10), is laas in April saam afgeneem en kry na bewering berading om hul 13 jaar lange huwelik te red.

Die 65ste Primetime Emmy Awards, aangebied deur Neil Patrick Harris, word op 22 September regstreeks uit die Nokia-teater in Los Angeles gebeeldsend.