Fasevier-kanker is in 2010 by die ster van Behind the Candelabra gediagnoseer, maar Michael is die afgelope twee jaar in remissie. Hy sê hy het geen berou omdat hy jare lank gerook en gedrink het nie – hy het in 1992 rehabilitasie daarvoor gekry – want hy dink nie dis wat hom siek gemaak het nie.

Die 68-jarige akteur, wat met Catherine Zeta-Jones (43) getroud is, het onlangs aan die koerant The Guardian gesê: “Ek wil nou nie te spesifiek raak nie, maar dié spesifieke soort kanker word deur die menslike papillomavirus veroorsaak en dit kom eintlik van orale seks met ’n vrou.”

Die pa van die 10-jarige Carys, die 12-jarige Dylan (sy kinders by Catherine) en die 34-jarige Cameron (sy seun by sy eerste vrou, Diandra Luker) was aanvanklik bekommerd dat stres hom siek gemaak het, maar glo nou dis deur ’n seksueel oordraagbare siekte veroorsaak.

“Ek was bekommerd dat die stres van my seun se gevangenskap (Cameron dien tans tronkstraf vir dwelmklagte uit) dit veroorsaak het, maar dis ’n seksueel oordraagbare siekte wat die kanker veroorsaak. En as jy dit het, is orale seks ook die beste kuur daarvoor.”

Michael het agt weke lank chemoterapie en bestraling ondergaan en sowat 20 kg verloor omdat hy geweier het om deur ’n pyp gevoer te word, wat beteken hy moes op vloeistowwe oorleef.

“Dit was moeilik. Dit kan jou uitmergel. Die hoeveelheid chemoterapie wat ek gekry het, het ook van al die goeie dinge ontslae geraak. Dit het my baie swak gemaak.”

Michael word elke ses maande ondersoek en voel gelukkig dat “die soort kanker 95 persent van die tyd nie terugkeer nie”.