Michael Douglas het ontken dat sy en Catherine Zeta-Jones se huwelik in ’n krisis is.

Die 68-jarige akteur, wat tans sy nuwe rolprent, Behind the Candelabra, bemark, hou vol dat dit goed gaan met sy huwelik en dat hulle net tydelik uitmekaar is.

Hy het tydens die première van sy nuwe rolprent aan die pers gesê: “Ek het ’n krisis by die huis? Nee . . . dit gaan goed met ons. Ek en my vrou; dit gaan goed met ons.”

Die egpaar, wat in 2000 ’n spogtroue in die Manhattan Plaza-hotel in New York gehad het, is in April laas saam afgeneem en kry na bewering berading om hul verhouding te red.

Dit lyk asof Catherine alles moontlik wil doen om dit te laat werk en haar huwelik van 13 jaar te red.

Luidens berigte het die ster van Red 2 teenoor vriende erken dat sy “alles in haar vermoë” sal doen om haar gesin, wat hul kinders Dylan (13) en Carys (10) insluit, bymekaar te hou.

Daar is ook gesê dat hulle hulp deur middel van berading kry, wat as die ster se “laaste gooi van die dobbelsteen” beskryf is.