Michael Douglas ondersteun sy vrou, Catherine Zeta-Jones, ten volle in haar besluit om vir die tweede keer behandeling vir bipolêre gemoedsteuring te kry.

Die 68-jarige ster van Behind the Candelabra is geheel en al toegewy aan sy in Wallis gebore vrou van die afgelope 12 jaar. Die aktrise moet ’n program van 30 dae voltooi as “proaktiewe” maatreël om te help teen haar toestand, wat kan lei tot buierigheid en depressie.

’n Vriend na aan die paartjie het aan People.com gesê: “Hy ondersteun haar baie mooi, nes sy vir hom ook ondersteun. Hulle is ’n standvastige paartjie en uiters toegewy aan mekaar.”

Daar is vanjaar ’n paar keer gegis dat die paartjie op skei staan. Hulle is in April saam gesien by die Film Society of Lincoln Centre se 40ste jaarlikse Chaplin-prysaand toe Barbra Streisand vereer is.

’n Ooggetuie vertel: “Catherine was meestal aan Michael se sy. Sy het baie ontspanne gelyk. Ek het haar met ’n mengeldrankie in die hand gesien en sy het gekuier en die aand geniet. Daar was niks ongewoons aan hulle nie en dit het gelyk of hulle dit geniet.”

Die 43-jarige star van Chicago het twee kinders, Carys (10) en Dylan (12), by Michael. Sy het in 2011 die eerste keer om mediese hulp aangeklop toe sy in ’n inrigting vir psigiatriese gesondheid in Connecticut opgeneem is. Haar woordvoerder, Cece Yorke, het bevestig dat sy onlangs weer vir behandeling opgeneem is.

Cece het voorheen gesê: “Catherine was proaktief en het self by ’n inrigting om hulp gaan aanklop. Catherine het al vantevore gesê is sy is vas van plan om gereelde sorg te kry en seker te maak sy bly gesond.”

’n Vriendin sê sy wil bloot hê dokters moet haar medikasie monitor. “Daar was nie ’n groot probleem nie. Dit was net ’n goeie tyd om dit te doen. Sy werk nie aan die oomblik aan ’n projek nie. Sy hou haar gesondheid fyn dop.”