Die Behind the Candelabra-ster en sy 44-jarige aktrise-vrou, wat in Augustus ’n tydelike “blaaskans” van hul huwelik van 13 jaar geneem het, het na Quebec gevlieg om die begin van 2014 te vier saam met hul dogter, Carys (10), en seun, Dylan (13).

Die 69-jarige ster het Woensdag ’n foto, waarop sy gelukkige gesin hul skipale omhoog hou, op Facebook gedeel met die byskrif: “Gelukkige nuwe jaar uit Quebec, Kanada . . . waar dit minus 10 °F (-23 °C) is.”

Hy het later nog ’n foto geplaas van waarop hy saam met sy kinders teen die hange baljaar en daarby geskryf: “Nog ’n gelukkige-nuwejaar-foto uit Quebec, Kanada.”

’n Bron het onlangs onthul Michael probeer hard om die Chicago-ster te oorreed sy moet hul huwelik nog ’n kans gee.

Die bron het verlede maand gesê: “Michael sal sy oogtande gee vir ’n versoening, maar Catherine het gewaarsku sy is nie gereed om haar te verbind nie; egskeiding bly vir haar ’n moontlikheid.”

Maar die twee het ’n paar weke gelede hul trouringe gedra toe hulle by hul woonstel in New York uit is om saam met die kinders te gaan middagete eet en fliek.

Michael het ook al gesê: “Ek hoop ek sal my huwelik(sprobleme) positief kan oplos. Soms neem mense ’n blaaskansie, maar dit beteken nie noodwendig dis die einde nie. Ek is baie hoopvol.”