Michael Douglas en Catherine Zeta-Jones bel mekaar ’n hele paar keer per dag.

Die paartjie, wat onlangs erken het hulle het huweliksprobleme, is nog nie gereed om hul huwelik te laat vaar nie. Tog lei elkeen op die oomblik sy eie lewe. Hulle het ook gister hul verjaardag (albei verjaar op 25 September) afsonderlik gevier.

’n Bron het aan People gesê: “Hulle gee nie op nie.”

Die Walliese aktrise (44) het nie Sondag die Emmys bygewoon om haar man te ondersteun nie. Hy het die prys vir uitsonderlike hoofrolspeler in ’n minireeks of rolprent gewen vir sy rol in Behind the Candelabra. Michael het haar in sy toespraak  bedank.

Die bron het ook gesê Catherine en Michael (69) het gereeld kontak en gesels ’n hele paar keer per dag met mekaar. Hulle het twee kinders, Dylan (13) en Carys (10).

Die twee woon al vier maande nie meer saam nie. Catherine en hul kinders woon in hul huis in Bedford, New York. Michael is besig met die verfilming van sy nuwe riller, The Reach, in Mexiko.

Michael het Sondag op die rooi tapyt gesê hy hoop hy kan sy huwelik red. “Catherine is wonderlik. Dit gaan goed met haar, vandag met haar gepraat en nou net ’n lieflike briefie van haar ontvang. Ek dink ons sal dit kan uitwerk.”