Michael Douglas se pa spoor hom aan om sy verhouding met Catherine Zeta-Jones te herstel.

Die Hollywood-egpaar het vroeër vandeesweek besluit om uitmekaar te gaan “om hul huwelik te evalueer”, maar Michael se pa, die 96-jarige Hollywoodse legende Kirk Douglas, het die Behind the Candelabra-ster gesmeek om sy verhouding te red voor dit te laat is.

’n Bron na aan die familie het aan The Sun gesê: “Kirk hou van Catherine en het vir Michael gesê om sy probleme op te los.

“Hy en sy vrou Anne is vir byna 60 jaar getroud en hy dink die huwelik gaan daaroor om deur voor- en teëspoed by iemand te staan.”

Nie Michael of Catherine het nog stappe tot ’n egskeiding of wettige verwydering gedoen nie en is glo besig om hul verskille by te lê.

’n Vriend van die egpaar sê: “Michael praat nog met Catherine en hul familie en vriende probeer hulle help om hul probleme op te los.”

Die getroudes se huwelik van 13 jaar is die laaste drie jaar deur talle probleme beproef, met keelkanker wat in 2010 by Michael gediagnoseer is (hy het dit geklop) en Catherine wat met tye aan bipolêre versteuring ly, mees onlangs in Mei vanjaar.

Die Red 2-ster kry glo berading, aangesien sy alles in haar vermoë wil doen om seker te maak dat hul huwelik so gou moontlik weer werk.

’n Bron het voorheen gesê: “Catherine het al gepraat met ’n huweliksberader, wat hulle afsonderlik en saam wil spreek.

“Sy is pynlik bewus daarvan dat dit die laaste gooi van die dobbelsteen kan wees.”