Die sanger van Cry Me a River en sy Argentynse vrou het reeds ’n 22 maande oue seun, Noah. Die 39-jarige sanger het Maandag bevestig die paartjie maak gereed om hul tweede baba te verwelkom.

“Noah het nuus vir julle...” het hy op Instagram geskryf by ’n video van sy seun. In die beeldmateriaal loop sy seuntjie in ’n pak Minions-slaapklere rond.

“Wie is daar binne?” vra die sanger, en Noah dwaal na waar Luisana op die vloer lê met haar maag ontbloot. Die seuntjie steek sy vinger ’n paar keer teen sy ma se maag en antwoord dan: “Baby”.

Michael en die model Luisana (28) is in Maart 2011 in Buenos Aires getroud, twee jaar nadat hulle mekaar by een van sy konserte in die stad ontmoet het. Luisana het tevore erken sy het gedink haar man is gay toe hulle die eerste keer aan mekaar voorgestel is.

“Ek was saam met my suster en ’n aantreklike akteursvriend met wie ek saamgewerk het, toe Michael nader kom en ons vir die partytjie ná die vertoning nooi,” het sy Sondag aan die Britse koerant The Mail on Sunday gesê.

“Ek kon nie Engels praat nie, maar my vriend kon en Michael het met hom gepraat en goed soos ‘O my God, kyk net jou spiere,’ aan hom gesê. Ek het bloot gedink hy is gay. Ek het my ma gebel en gesê: ‘Ek is op ’n partytjie saam met Michael Bublé en hy is gay!’ ”

Die paartjie het gelukkig die hindernis ten opsigte van taal te bowe gekom en Michael het sy trefferliedjie Haven’t Met You Yet vir haar geskryf; sy het ook in die video geskitter.

Die datum waarop hul tweede baba verwag word, is nog onbekend.

© Cover Media