Michael Bublé se eersteling is in die vroeë oggendure van Dinsdag 27 Augustus in Vancouver, Kanada, gebore.

Die 37-jarige sanger en sy vrou, Luisana Lopilato (26), het ’n seun genaamd Noah ryker geword.

Michael het dadelik die nuus bekendgemaak; hy het op Instagram ’n foto geplaas van hom, sy vrou en hul pasgebore baba in die hospitaal. Hy het daarby geskryf: “Verheug en vervul met dankbaarheid oor die koms van ons seun.”

Michael het voorheen gesê dit was “die beste dag van my lewe” toe hy uitvind hy gaan pa word. Die egpaar het in Maart gehoor Luisana verwag ’n seun.

Die Kanadees het vroeër vandeesmaand gesê hy bly naby aan die Argentyns-gebore Luisana, ingeval sy begin kraam.

Hy het gesê: “Ek is omtrent 15 tot 20 minute van die huis af. As iets gebeur, is ek daar. Dis skrikwekkend vir haar. Sy is in ’n vreemde land en mense praat ’n taal wat nie haar eerste taal is nie. Haar hele familie is nou hier, so daar is ’n goeie ondersteuningstelsel.”