Toe die bank vir Johan Venter (55) van Kraaifontein buite Kaapstad sê hy sal die helfte minder aan lewensversekering hoef te betaal as hy ophou rook, het hy ná 37 jaar van byna twee pakkies sigarette per dag besluit dis nou of nooit.

Sy vrou, Esther (42), het nie op haar laat wag nie en ook haar rookgewoonte van 28 jaar stopgesit.

Maar daar was een lid van die Venter-gesin wat swaarder gesluk het aan die huishouding se gesonder leefstyl: Mietsie die kat.

Die eens gemoedelike Mietsie, wat al byna 17 jaar lid van die gesin is, het skielik aggressief geword en kwaai geblaas as ’n mens dit sou waag om haar op te tel. Kort daarna het hulle agtergekom sy kan nie Johan se gunstelingstoel, waarin hy voorheen ure omgerook het, uitlos nie, en sy snuffel pal aan die armleuning waarop Johan se rokershand soveel jare gerus het.

Toe sy hul vingers begin lek op soek na spore van nikotien, moes hulle seker agtergekom het Mietsie sukkel, nes haar eienaars, om sonder haar dampie klaar te kom. Maar dit het ’n jaar geduur voor Johan en Esther besef het kat se kind het waarskynlik aan onttrekkingsimptome gely omdat sy haar lewe lank gerook het en toe oornag moes ophou.

“Arme Mietsie,” sê Johan. “Sy was ’n kompulsiewe roker!” Al kon wetenskaplikes nog nie bewys dat troeteldiere wel rookonttrekking kry nie, is Johan en Esther oortuig dis wat hul lieflingkat oorgekom het. Twee dae nadat hulle hul laaste sigaret doodgedruk het, was Mietsie duidelik nie haar ou self nie. Anders as Johan en Esther, wat met die hulp van ’n kliniek en spesiale terapie ophou rook het, is die stomme katjie behoorlik aan die diep kant ingegooi.

Nes Johan toe hy ’n paar jaar tevore probeer ophou rook het, het sy nukkerig en moeilik geword. Dit het langer as ’n maand so aangehou, maar eindelik het haar buierigheid bedaar.

Waar sy vandag doodluiters op die mat lê, is sy weer die ou Mietsie. Haar oë blink en haar bont lyfie is rond en gesond. Dit is nou al ’n volle jaar dat sy en haar eienaars rookvry is, en Mietsie het selfs haar eie sertifikaat van die kliniek gekry om dit te bewys.

[caption id="attachment_76544" align="aligncenter" width="600"]Johan en Esther Venter se Mietsie het ’n sertifikaat wat haar gelukwens dat sy ophou rook het. FOTO: Martin de Kock Johan en Esther Venter se Mietsie het ’n sertifikaat wat haar gelukwens dat sy ophou rook het. FOTO: Martin de Kock[/caption]

In al die jare dat Mietsie by hulle woon, het sy nog net een keer van die huis af weggeloop – en nou wonder die egpaar of dit nie dalk ook was om ’n sigaretsnuifie te gaan soek nie. Johan, ’n vragmotorbestuurder, se werkgewer het hulle destyds vir ’n paar maande Johannesburg toe gestuur en in dié tyd het ’n nieroker in hul huis gewoon om Mietsie op te pas.

“Sy het weggeloop, maar is gelukkig weer gevind. Sy was by die dieretuin en vol bosluise. Sy het seker sigaretrook gaan soek!” sê Johan.

Dit lyk ook nie of Mietsie gou weer haar regmakertjie gaan kry nie. Mense wat by die Venters kom kuier, rook deesdae buite, en sowel Johan as Esther is vasbeslote om nie weer te begin nie. Johan sê hy voel nie eens meer lus vir rook nie, en Esther sê die reuk van sigaretrook maak haar naar.

En Mietsie? “Sy is blinkgesond en eet net hoender en ham,” sê Esther, want niks minder as die beste is goed genoeg vir die koningin van die huis nie.

“Sy is nie net ’n kat nie; sy is ook ’n kind. Sy verstaan alles wat ons sê; dis hoekom sy nou hier lê, want sy weet ons gesels oor haar.”

Rook katte regtig saam?

Hoewel sy en haar kollegas nog nooit ’n kat met rookonttrekkingsimptome gesien het nie, is dit heeltemal moontlik dat eienaars se rokery hul troeteldiere kan aantas, sêdr. Mpho Hlalele, ’n veearts en assistentbestuurder van die Animal Anti-Cruelty League in Kaapstad.

“Navorsers probeer nog vasstel wat die uitwerking van nikotienrook op troeteldiere is,” sê Mpho. “Dit behoort diere aan te tas omdat hulle naby hul eienaars is wanneer dié rook, maar navorsers moet nog bepaal of tweedehandse rook wat diere inasem, kan lei tot toestande soos katlimfoom, ’n algemene katkanker.”

Ander slegte gewoontes kan natuurlik ook jou troeteldiere aantas, sê Mpho. “Honde en katte volg hul eienaars oral rond. Jou leefstyl sal dus ’n uitwerking op jou dier hê.”

Aggressiewe mense se diere is dikwels aggressief, terwyl angstige mense angstige honde kan hê, sê die Kaapstadse dieregedragskenner Bernice Jaffe.

“’n Hond sal ook oplet as sy eienaar humeurig is, en dit gaan die hond se eie lewe ontwrig,” maan sy.

En hoe vlytig is julle gesin? Want Mpho waarsku dat lui mense se honde ook leer om lui te word soos die tyd aanstap!

– Mieke Vlok en Christiaan Boonzaier