Die passasiers en bemanning van die vermiste Malaysia Airlines-vlug MH370 het waarskynlik versmoor voor die vliegtuig op outoloods in die see neergestort het, lui ’n nuwe verslag wat Australiese beamptes Donderdag uitgereik het.

In ’n verslag van 55 bladsye sit die Australiese raad vir vervoerveiligheid uiteen hoe ondersoekers tot dié gevolgtrekking gekom het nadat hulle die toestande op die vlug met vorige rampe vergelyk het. Maar die verslag bevat geen nuwe bewyse van binne die straler nie.

Die verslag het die moontlike laaste rusplek van duisende moontlike roetes verminder, terwyl hulle gelet het op die afwesigheid van kommunikasie, die standvastige vlugpad en ’n aantal ander sleutelafwykings tydens die gedoemde vlug.

“Gegewe die waarnemings blyk dit die laaste fases van ’n onreaktiewe bemanning of hipoksievoorval pas die beste by die beskikbare bewyse vir die laaste tydperk van MH370 se vlug, toe dit in ’n algemene suidelike rigting gevlieg het,” lui die verslag.

Dit alles dui daarop dat die vliegtuig waarskynlik verder suid in die Indiese Oseaan neergestort het as wat voorheen gedink is, sê die Australiese beamptes, en dit het hulle ’n area laat bekendmaak wat verder suid is as die vorige soekgebied.

Die nuwe ontleding kom meer as 100 dae nadat die Boeing 777 op 8 Maart met 239 passasiers en bemanningslede verdwyn het kort nadat dit by Kuala Lumpur na Beijing vertrek het.

Die ondersoekers sê die bietjie bewyse tot hul beskikking dui daarop dat die vliegtuig met opset duisende kilometer van sy geskeduleerde roete afgewyk het voor dit in die Indiese Oseaan neergestort het.