Hulle sê ’n lang verwagte verslag is onvolledig en bewys nie die vliegtuig het in die Indiese Oseaan neergestort nie.

Maleisië het Dinsdag ’n opsomming van 47 bladsye van kommunikasie- aantekeninge van die vliegtuig van hul nasionale lugredery uitgereik wat die Britse satelliet-operateur Inmarsat opgeneem het. Naasbestaandes en onafhanklike kenners het daarop aangedring.

Ten spyte van ’n reuse, internasionale soektog aan die kus van Wes-Australië is geen wrakstukke nog gevind van die vliegtuig wat op 8 Maart onderweg van Kuala Lumpur na Beijing verdwyn het met 239 passasiers en bemanningslede aan boord.

Baie naasbestaandes is gefrustreer oor die gebrek aan vordering en het min vertroue in die ingewikkelde proses wat gebruik is om tot die gevolg te kom dat die vliegtuig om onbekende redes van koers af gewyk het nadat dit kontak verloor het en toe in die suidelike Indiese Oseaan neergestort het.

Michael Exner, ’n Amerikaanse satelliet-ingenieur en een van die voorste onafhanklike kenners wat die bevindings ontleed, meen Maleisië het nagelaat om belangrike ondersteunende besonderhede saam met die Inmarsat-aantekeninge te verstrek.

“Daar is ’n bietjie meer nuwe inligting wat ons kan help. Maar daar is net ’n baie groot deel metadata wat weg is,” het hy aan AFP gesê.

“Hulle is nie deursigtig nie,” het hy bygevoeg. “Dit sal dalk onmoontlik wees om enige gevolgtrekkings te maak. Hoekom stel hulle nie net alles beskikbaar nie? Hoekom steek hulle so baie daarvan weg?”

Michael het gesê dit sal dae duur om selfs die beperkte tegniese data te ontleed wat uitgereik is.

Steve Wang, ’n woordvoerder vir ’n steungroep vir naasbestaandes van die vlug se 153 Chinese passasiers, het Maleisië daarvan beskuldig dat hulle inligting weerhou.

“Ons soek ’n volledige verslag wat al die inligting verstrek oor hoe hulle tot die gevolgtrekking gekom het oor die vliegtuig se ligging sodat ons kan versoek kenners moet ’n onafhanklike mening lug.”

“So baie tyd het verloop en niks is gevind nie; daarom twyfel ons of die berekende ligging van die vliegtuig reg is,” het hy gesê.

Sarah Bajc, die Amerikaanse passasier Philip Wood se meisie en ’n uitgesproke kritikus van Maleisië se reaksie, het gesê die owerheid het gekies om te “bestuur” wat hulle uitreik, pleks dat hulle die oorspronklike, onverwerkte data oorhandig.

“Die verslag is ’n anti-klimaks. Ons oorspronklike versoek vir die data was langer as twee maande gelede... Dis eenvoudig belaglik dat dit so lank geduur het om data uit te reik wat boonop gemanipuleer is,” het sy aan AFP gesê.

Die Boeing 777 se antwoordsender, wat ’n vliegtuig se ligging oordra, en sy Acars-stelsel, wat inligting oor ’n vliegtuig se meganiese gesondheid versend, was blykbaar afgeskakel toe dit vermis geraak het.

Dit het die owerheid verplig om sy roete aan die hand van ander inligting te bepaal, onder meer satellietseine, radardata en vliegtuigprestasieberekeninge.

Dié ongetoetste metode maak dit vir familielede, wat reeds krities is oor die hantering van die ondersoek onder leiding van Maleisië, moontlik om aan te voer die owerheid se berekenings is moontlik foutief.

In antwoord op die kritiek het Maleisië se hoof van burgerlike lugvaart, Azharuddin Rahman, enige verdere navrae na Inmarsat verwys.

“Daar is nog geen plan om nog besonderhede te verskaf oor Inmarsat se onverwerkte data nie,” het hy aan AFP gesê.

Maleisië hou vol hulle doen soveel moontlik in ’n ongehoorde situasie.

Maar die koalisie wat al 57 jaar aan bevind is, is bekend daarvoor dat hulle hul verskanste magsposisie gebruik om skandale toe te smeer, iets wat skeptisisme en samesweringsteorieë aanvuur.

Deels op grond van die Inmarsat-data meen beamptes die vliegtuig het onverklaarbaar van sy roete afgewyk voor dit in die see neergestort het, moontlik nadat die brandstof opgeraak het.

Die gebrekkige data is geëkstrapoleer met die Doppler-effek, die verandering in die frekwensie van golwe van ’n bewegende voorwerp af, om die laaste vliegroete te ontsyfer.

Die huidige fase van die soektog – die gebruik van ’n miniduikboot om die dieptes van die oseaan te verken – eindig vandeesweek. In die volgende fase sal gesofistikeerde toerusting gebruik word om die ongekarteerde seebodem te fynkam.

Australië, wat die soektog in die Indiese Oseaan lei, het tot R882 miljoen beskikbaargestel vir ’n soektog oor twee jaar.

- Sapa