Intussen het Maleisiese owerhede beloof om enige data van die vlugopnemers bekend te maak.

Die onbemande duikboot, wat toegerus is met sonartegnologie, is Dinsdagaand uitgestuur nadat data-analise van die eerste sending geen antwoorde opgelewer het nie, het Australië se Joint Agency Coordination Centre (Jacc) gesê.

Ná ’n weke lange soektog na die vlugopnemers se sein is die duikboot Maandagaand ontplooi van die Australiese skip Ocean Shield, wat die soektog na die vermiste Boeing 777 lei. Die vliegtuig het op 8 Maart met 239 mense aan boord verdwyn.

“Die onbemande Autonomous Underwater Vehicle is Dinsdagaand herontplooi,” het die Jacc gesê.

Die data van Bluefin-21 se eerste sending is afgelaai en ontleed. Geen voorwerpe van belang is gevind nie.

Die soektog is ná ses uur outomaties gestaak nadat die toestel sy maksimum werkdiepte bereik het, het die Amerikaanse vloot gesê.

Die Jacc voeg by dat dit “die maksimum werkdiepte van 4 500 m bereik het. Die duikboot het ’n ingeboude veiligheidskenmerk wat dit weer na die oppervlak laat terugkeer.”

Die duikboot was nie beskadig nie, maar moet herprogrammeer word, het kapt. Mark Matthews van die Amerikaanse vloot gesê.

“In hierdie geval is die voertuig geprogrammeer om 30 m bo die seebodem te sweef en ’n goeie afbeelding te kry van wat daar onder aangaan,” het hy ná die eerste sending aan CNN uit Perth gesê.

“Dit het 4 500 m bereik en toe die sending beëindig. Om te vergoed vir die ongelykheid van die seebodem, word die soekprofiel aangepas om die sonarsoektog so lank moontlik te verleng,” het die vloot se verklaring gelui.

Die hoof van die Jacc, Angus Houston, het Maandag aangekondig amptenare gaan die duikbootsoektogte loods nadat hulle drie weke lank geluister het vir ’n sein van die vliegtuig se vlugopnemer.

Die mini-duikboot gaan 16 uur per dag ’n sonaropname van die verslykte seebodem maak met die hoop dat daar wrakstukke is van die Malaysia Airlines-vlug wat verdwyn het van Kuala Lumpur onderweg na Beijing.

Die Amerikaanse vloot skat dit sou die Bluefin-21 tussen ses weke en twee maande neem om die hele soekgebied deur te werk, wat verklein is danksy die gebruik van satellietdata en die seine van die vlugopnemers wat ’n week gelede laas gehoor is.