Die Australiese Vervoerveiligheidsburo, wat die soektog op Maleisië se versoek bestuur, ondersoek ’n Britse matroos se bewerings die afgelope week.

“Die buro het ’n boodskap van ’n lid van die publiek ontvang waarvolgens sy iets in die lug bo die Indiese Oseaan gesien het wat moontlik ’n brandende vliegtuig kon wees. Dit was die aand waarop MH370 vermis geraak het,” het ’n woordvoerder per e-pos aan die nuusagentskap AFP gesê.

“Die inligting is aan die buro se werkgroep vir MH370-soektogstrategie gegee sodat hulle dit kan hersien.”

Die vliegtuig was van Kuala Lumpur onderweg na Beijing toe dit onverklaarbaar van sy roete afgewyk en blykbaar in die suide van die Indiese Oseaan neerstort het.

’n Wye soektog na die vliegtuig, wat op 8 Maart met 239 mense aan boord vermis geraak het, het nog niks opgelewer nie. Daar is ook van ’n miniduikboot gebruik gemaak wat tot 4 500 m onder die see kan duik.

Die Australiese Vervoerveiligheidsburo het Woensdag tenders aangevra vir ’n nog dieper soektog, tot op 6 000 m onder die see.

Die suksesvoller bieër gaan as primêre kontrakteur betrokke wees en van Augustus die nodige deskundigheid, toerusting en vaartuie aan die soektog lewer.

“Die suksesvolle tenderaar gaan die data van ’n dieptepeilingsopname (wat reeds onderweg is) gebruik om die soekgebied te navigeer, wat tussen 1 000 en 6 000 m diep is,” sê die buro.

’n Internasionale span merk nou ’n soekgebied van tot 60 000 km² af, gegrond op waar die vliegtuig die laaste keer met ’n Inmarsat-satelliet gekommunikeer het.

Die Britse matroos Katherine Tee het gerugte laat opvlam toe sy sê sy het in Maart ’n brandende vliegtuig oor die Indiese Oseaan gesien. Die 41-jarige het gesê sy het beamptes in Australië vertel van die vliegtuig met “wat gelyk het na ’n streep swart rook aan die agterkant”, terwyl sy gereis het van Kochi, Indië, na Phuket, Thailand. “Daar was nog twee vliegtuie wat op dieselfde tydstip hoër en in die teenoorgestelde rigting beweeg het,” het sy geskryf op die webtuiste Cruisers Form, vir wie sy werk.

'Ek kon my oë nie glo nie.'

“Ek onthou ek het gedink, as dit ’n brandende vliegtuig was, sou die ander vliegtuie se bemanning dit aangemeld het.”

“Ek was veral onseker oor dit wat ek gesien het,” het sy gesê. “Ek kon my oë nie glo nie.”

Maar nadat sy onlangs haar seiljag se posisie met GPS-data bepaal het, het sy gesê sy het geweet sy was op die regte oomblik op die regte plek, en het dit toe aangemeld.

MH370 se laaste bekende ligging, soos per militêre radar bepaal, was min of meer wes van Phuket, al is die afgebakende soekgebied honderde kilometers suid daarvandaan.