Die vlugopnemers van die Malaysia Airlines-vliegtuig wat in oos-Oekraïne neergestort het, gaan na Britse lugvaartondersoekers gestuur word vir ontleding, het die Maleisiese owerheid gesê.

Die Nederlandse span wat die ramp ondersoek, het die besluit gemaak nadat pro-Russiese rebelle wat die ongelukstoneel beheer die opnemers Dinsdag aan Maleisiese beamptes oorhandig het. Dit volg ná groot internasionale druk om dit te doen.

Die Maleisiese minister van vervoer, Liow Tiong Lai, het Dinsdag in ’n verklaring gesê dis normale prosedure om die opnemers (wat aktiwiteit in die stuurkajuit en vlugdata opneem) te stuur na die naaste laboratorium wat goedgekeur is deur die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie, die Verenigde Nasies se lugvaart-agentskap.

“Die internasionale ondersoekspan, onder leiding van Nederland, het besluit om die vlugopnemers na die Verenigde Koninkryk se ondersoektak vir lugvaartongelukke te stuur vir forensiese ontleding,” het hy gesê.

Die opnemers gaan na Farnborough, Engeland, gestuur word en deur Maleisiese beamptes en ander lede van die ondersoekspan vergesel word, het Lai bygevoeg.

Al 293 passasiers, insluitend 193 Nederlandse burgers, is dood toe die vliegtuig Donderdag in die oorloggeteisterde oos-Oekraïne neergestort het. Dit is glo met ’n missiel neergeskiet.

Maleisië het Maandag aangekondig hulle het ná onderhandelinge ’n ooreenkoms bereik met separatiste van die selfverklaarde Republiek van  Donetsk.

Benewens die oorhandiging van die opnemers bepaal die ooreenkoms ook dat die slagoffers se lyke Nederland toe gestuur word vir ontleding voor dit huis toe gestuur word. Dit bied ook ’n veilige roete na die ongelukstoneel, wat onder rebellebeheer is.

Die VSA en ’n paar ander lande verdink die pro-Russiese rebelle in die gebied, en vermoed hulle het die vliegtuig afgeskiet met ’n missiel wat deur Rusland verskaf is.

- Sapa