Clint Eastwood se vervreemde vrou, Dina Eastwood, het om ’n egskeiding en toesig om oor hul dogter aansoek gedoen.

Dina, wat onlangs gevra het haar versoek om ’n wettige skeiding van die Oscar-bekroonde akteur en regisseur moet ter syde gestel word, het Maandag dokumente by die hooggeregshof van die distrik Monterey Carmel, Kalifornië, ingedien om hul huwelik van 17 jaar wettig laat te ontbind.

Volgens People.com beweer die voormalige nuusverslaggewer dat onversoenbare verskille tot die verbrokkeling van hul huwelik gelei het. Dina wil toesig hê oor hul dogter, Morgan (16).

Sy wil ook onderhoud hê en eis dat die 83-jarige ster haar prokureursfooie betaal.

Dina (48) is onlangs gehoor sê die skeiding is “onwerklik en hartverskeurend”; sy is glo steeds lief vir die Gran Torino-ster.

Sy is glo ook verslae dat hy nou met haar voormalige vriendin Erica Tomlinson-Fisher uitgaan.

Dina het in Augustus onthul sy en Clint is ná ’n huwelik van 17 jaar op goeie voet uitmekaar.

Sy het eers volgehou hulle is nog goeie vriende en het op Twitter geskryf: “Ek hou nie daarvan om negatiewe goed oor Clint te lees nie. Hy is ’n wonderlike, saggeaarde, skitterende mens. Maak nie saak wat nie, ek sal daarvan getuig.”

Maar sy het later erken sy was baie ontsteld nadat sy foto’s van Clint op ’n afspraak met Erica gesien het, al gaan sy glo met Scott Fisher, Erica se eksman, uit.

Sy het gesê: “Dit maak my hartseer om foto’s van Clint saam met me. Tomlinson-Fisher te sien. Ek sien uit na ’n nuwe begin.”