Die eenheid was vantevore in die moeilikheid toe ’n logistiekbeampte in beheer van voorraadkettingbestuur en -aankope, beveel het dat ou en siek polisiehonde uitgesit word, pleks dat hulle hul oudag saam met hul hanteerders slyt. Drie bronne binne die metropolisie het met News24 gepraat op voorwaarde van anonimiteit, aangesien hulle vergelding vrees as hulle hul uitdagings met die media bespreek het.

'Die probleme by die honde-eenheid kom al ’n lang pad.'

“Die probleme by die honde-eenheid kom al ’n lang pad en lede van die eenheid is nou by die punt waar hulle sukkel om hul frustrasies te verwerk.

“Die kwessie van sjampoe kan miskien nietig lyk, maar dit is noodsaaklik vir die versorging van ons honde, en ons het nou al langer as ’n jaar geen voorrade van die metropolisie ontvang nie.

“Die manne het hul eie sjampoe gekoop, maar hoekom moet hulle dit doen? Dit was nog nooit nodig nie. Ons is lief vir ons honde: dus sal ons dit doen, maar dit is uiters onregverdig,” het hy gesê.

“Van die jonger honde eet kos wat vir volwasse honde bedoel is, want hulle weier om kos vir klein hondjies te bestel. Hulle behoort die regte kos te kry sodat hulle behoorlik kan ontwikkel en hul dienstyd as werkhonde kan voltooi, maar die metropolisie het die stelsel verbreek.”

Volgens die bronne is die hoofrede tot kommer die feit dat veeartsrekeninge al langer as ses maande agterstallig is.

“Dit beteken die veeartse weier om dienste te lewer en die honde te behandel; daarom kan die honde ook nie werk nie. Ek weet nie hoe dit moontlik is dat ’n groot metropool soos eThekwini geklassifiseer kan word as wanbetalers en hul rekeninge so lank agterstallig kan laat raak nie,” het nog ’n bron bygevoeg.

Paws24

In 2013 is ’n staande opdrag van die eThekwini-metropolisie in geheimhouding gehul. Hulle het opdrag gegee dat gespesialiseerde polisiehonde wat beseer is of te oud is om te werk, uitgesit word.

Die bevel, wat oorspronklik gekom het van Innocent Chamane, die hoof van die metropolisie se logistiekafdeling, is deur die stadsraad op ys geplaas ná ’n vloed verontwaardiging van die kant van hondehanteerders en diereregte-aktiviste.

Innocent se argument was dat polisiehonde as “’n bate” beskou word en dus vernietig moet word sodra hulle nie langer kan werk nie, soos in die geval van kantoormeubels.

Tozi Mthethwa , die hoof van kommunikasie by eThekwini, het gesê die saak kry aandag.

“Die bestuur skenk aandag aan alle sake rakende die honde van die metropolisie, aangesien hulle ’n belangrike deel vorm van die metropolisie-familie en alle pogings word aangewend om te verseker dat hulle volgens ’n aanvaarbare norm versorg word,” het sy gesê.

Bron: Jeff Wicks, News24