Vakansiegangers in Hartenbos is so vies oor die peperduur parkeertariewe by die nuwe sentrum op die dorp dat sommige oorweeg om glad nie daarheen te gaan nie.

hartenbos-11-featured

“Sal maar eerder by die Mall gaan inkopies doen en op Diaz-strand gaan swem. Hartenbos is nou net vir ryk mense,” skryf Theresa Oosthuizen op Facebook.

“Hartenbos sien ons gesin vir seker nie hierdie jaar nie,” skryf Chrisna Southey. “Wat ’n jammerte!”

“Dit is belaglik. Dit is net plein geldgierigheid.” het Zelda Labuschagné laat hoor.

Dié tariewe vir die vakansie sluit die volgende in: Van 05:00 tot 07:00 is dit gratis, maar van 07:00 tot 19:00 gaan jy moet opdok. Die eerste 15 minute is gratis en vir 15 tot 30 minute kos dit R5. Vir 30 minute tot ’n uur kos dit R10.

Indien jy tussen ’n uur en twee ure daar parkeer sal dit jou R30 kos, vir twee tot drie ure, R75 en vir drie tot vier ure R175. Daarna sal jy R200 per uur betaal en van 19:00 tot 01:00 weer R5 per uur.

As jy jou parkeerkaartjie verloor sal jy R750 moet betaal en indien jy op ’n onwettige plek parkeer sal dit vasgeklamp word en sal jy tot R1 000 moet betaal om dit te laat oopsluit.

Die ATKV se nuwe Hartenbos Seefront-ontwikkeling is vroeër die maand amptelik oopgemaak. Die eerste fase van die ontwikkeling beloop min of meer R100 miljoen en sluit verskeie nuwe restaurante, ’n pretpark en ’n ontspanningsarea in.

Van die duurste parkering by die V&A Waterfront in Kaapstad beloop R10 vir twee ure, R15 vir twee tot drie ure, R20 vir drie tot vier ure, R30 vir vier tot vyf ure, R4 vir vyf tot ses ure, R55 vir ses tot agt ure, R65 vir agt tot tien ure, R80 vir tien tot twaalf ure en R110 vir twaalf tot vier-en-twintig ure.

’n Verlore kaartjie kos R110.

Die ATKV het gereageer deur te sê dat die tariewe gehef is omdat mense al die parkering opeis wanneer hulle strand toe gaan. Dit verhoed dat mense nie by die winkels kan uitkom om inkopies te doen of die restaurante te besoek nie.

Na afloop van die seisoen sal die parkering gratis wees.