Volgens die paleis was koningin Elizabeth nie tydens die voorval in die gebou nie. Sy, haar man, prins Phillip, en hul personeel woon meesal daar. Geen verdere kommentaar is gelewer nie.

Die man het die paleis glo om rondom 11:30 deur die noordelike hek probeer binnegaan. Toe hy deursoek is, is ’n mes gevind. Hy is in hegtenis geneem en hy word by ’n Londense polisiestasie aangehou.

Nog ’n man het verlede maand oor die hekke gespring en is in die paleis gevind. Hy is aangekeer in een van die staatskamers wat vol waardevolle kunswerke is. Hy en ’n medewerker wat buite die paleis gewag het is in hegtenis geneem en deeglik ondervra voor hulle op borgtog vrygelaat is. Hulle is verhoorafwagtend.

’n Paar dae later het die polisie prins Andrew, die koningin se seun, in die paleis se tuin vir ’n inbreker aangesien en hom met ’n vuurwapen aangehou. Hulle het gou ’n volle verskoning uitgereik.