Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) maan die publiek om sosialenetwerkwebtuistes verantwoordelik te gebruik.

Dit kom nadat die kommissie ’n saak opgelos het van ’n man wat anti-Semitiese stellings gemaak het.

In Julie het Ziyaad Kayat via die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes se Facebook-blads vir hulle ’n boodskap gestuur.

“Alle Jode is varke en ek dink ons moet julle SA Jode en jul kinders doodmaak en julle laat voel hoe die Palestyne voel,” het hy geskryf.

Die raad het ’n klag by die SAMRK ingedien en dié het bevind Ziyaad se stellings is ’n oortreding van onder meer artikel 16 van die grondwet. Dit verbied uitdrukkings wat geweld aanblaas of haat bevorder op grond van godsdiens of etnisiteit en neerkom op aanhitsing om skade te berokken.

Nadat die SAMRK Ziyaad genader het, het hy ’n onomwonde verskoning aan die raad, die kommissie en die Suid-Afrikaanse publiek onderteken.

“In die verskoning trek Ziyaad die kommentaar terug en erken hy die opmerkings was verkeerd en ongevraagd. Hy spreek sy toewyding aan die grondwet uit,” sê die SAMRK in ’n verklaring.

Die raad het die verskoning verlede week aanvaar.