Daar was na bewering meer as 100 Mexikaanse immigrante in die vragmotor. Die skokontdekking is Sondag deur ’n sekerheidsbeampte by Walmart in San Antonio, Texas, gemaak.

Hy het die owerheid oor sy vonds ingelig. Minstens 39 immigrante was steeds in die vragmotor met hul aankoms, terwyl ander weggehardloop het.

Luidens berigte is die bestuurder van die vragmotor, ene James Bradley (60), in hegtenis geneem en staar hy kriminele klagte in die gesig. Die verdagte sou na verwagting vandag in die hof verskyn.

Een van die immigrante het na bewering die sekerheidsbeampte genader vir water, berig NBC News.

Die beampte het toe die vragmotor deursoek en die skokontdekking gemaak.

Die plaaslik brandweerhoof, Charles Hood, het bevestig dat die voertuig oorlaai was.

Agt mense is aanvanklik dood gevind in die voertuig en ’n negende slagoffer het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Luidens berigte was die slagoffers gedehidreer en het aan hitte-uitputting gely omdat daar geen lugtoevoer en water beskikbaar was nie.

Die departement van immigrasie en doeane het Sondag in ’n verklaring gesê dat mensehandelnetwerke herhaaldelik die mense wat hulle smokkel, met roekelose minagting behandel.

“By enige standaard is hierdie grusame misdaad wat gisteraand ontbloot is weer eens ’n skrille wekroep dat mensehandelnetwerke blootgelê en oortreders gevang en gestraf moet word,” sê Thomas Homan, direkteur van die organisasie.

William McManus, San Antonio se polisiehoof, sê die saak wat hulle ondersoek is ’n mensehandel-misdaad, ’n verskriklike tragedie.

Volgens William was baie van die slagoffers in hul vroeë 20’s en 30’s en was daar blykbaar ook twee minderjariges, berig The Guardian.

Joaquin Castro, ’n politikus, meen dat die sterftes onvermydelik en tragies is.

Plaaslike owerhede het nie verklap waarheen presies die vragmotor op pad was nie.

“Sodra al die slagoffers behandeling ondergaan het, sal die saak oorhandig word aan die departement immigrasie en doean," het die polisiehoof bygevoeg.

Bronne: NBC News, The Guardian, Metro.co.uk