Twee seuns het beserings opgedoen nadat ’n opslaankoeël in ’n winkel in Vosloorus, oos van Johannesburg, afgevuur is en hulle onderskeidelik in die been en arm getref het, het die Ekurhuleni-metropolisie gesê.

“Daar word beweer die sekuriteitsbeampte het op ’n onveilige wyse met die vuurwapen in die winkel gepeuter,” het die woordvoerder Wilfred Kgasago gesê.

"Die koeël wat per ongeluk afgevuur is, het opgeslaan van die vloerteëls wat gekraak en skrapnel laat rondvlieg en ’n 15-jarige seun se voet en 12-jarige seun se hand beseer het.”

Wilfred sê die 40-jarige man het nie die behoorlike immigrasiedokumente gehad of ’n permit vir die vuurwapen nie. Hy het aan die polisie gesê hy werk vir ’n maatskappy genaamd SI Security wie se hoofkantore in Sandton is.

Hy is in hegtenis geneem en weggevat van gemeenskapslede wat woedend was oor sy nalatigheid, sê Wilfred.

“Lede van die gemeenskap wou wraak neem op die sekuriteitsbeampte en die wet in eie hande neem. Gelukkig is lede van die metropolisie in kennis gestel en het hulle die situasie beredder.”

Die man sal na verwagting Maandag vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied en die besit van ’n vuurwapen sonder ’n geldige permit in die Vosloorus-landdroshof verskyn.

Die seuns is na ’n nabye kliniek vir verdere behandeling geneem.

Bron: News24

Ook op Huisgenoot.com:

Dis nou tyd vir Sylvester die leeu om te kalmeer

Is dié een van die wreedste of oorspronklikste poetse ooit?

‘Papierman’ omskep Britse stede in bekende Disney-tonele

Ons kan heelwat by dié 4-jarige gimnas leer