Die kleinhandelgroep costumeish.com is gekritiseer oor sy besluit om ’n kostuum te verkoop wat gegrond is op Cecil die leeu, wat in Julie deur die Amerikaanse tandarts Walter James Palmer doodgeskiet is.

Die kostuum, wat die “leeumoordenaartandarts se Halloween-kostuum” genoem word, word soos volg beskryf:

“Al wat dr. Palmer wou doen, was om dooie diere in sy huis op te hang, maar wat begin het as ’n obskure jagtog, het intussen ontaard in ’n opskudding van transatlantiese afmetings.

“Die mees omstrede jagtog van 2015 het gewys hoeveel Amerikaners en Zimbabwiërs se siening verskil wat die jag van eksotiese wild en wildbewaring betref. Dit het ’n ontstoke gepeupel kragte laat meet met ’n tandarts uit Minnesota in ’n skandaal wat beslis tot in die volgende geslag onthou sal word.

“Ons leeumoordenaartandartskostuum bestaan uit ’n masker wat soos ’n afgekapte leeukop lyk, ’n bloedbevlekte jurk en bloedbevlekte handskoene.”

Die kenmerke sluit in:

  • Masker wat lyk soos ’n afgekapte leeukop.
  • Jurk met nagemaakte bloedspatsels.
  • Handskoene met nagemaakte bloedspatsels.
  • Tandartsinstrumente in die voorste sak van jurk.

Vyftien persent van alle opbrengste sal aan ’n natuurlewestigting geskenk word.

Johnathon Weeks, stigter en visepresident van die maatskappy, het aan Time gesê: “Cecil is as kostuum voorgestel, en net soos met baie van die ander voorstelle, byvoorbeeld die Ebola-kostuums, is dit ’n tendens wat ons by gebruikers waargeneem het. Halloween is ’n werklik netelige dag; van die kostuums wat hier aankom, laat dit lyk of mense gedesentiseer is.”

Hierdie aanvegbare stap volg op die besluit van verskeie kleinhandelaars om ’n kostuum aan te bied wat gegrond is op Vanity Fair se voorbladfoto van Caitlin Jenner vroeër vanjaar. ’n Verteenwoordiger van Spirit Halloween, een van hierdie kleinhandelaars, het hierop geantwoord: “Caitlyn is die belangrikste werklike superheldin van die jaar.”

Bronne: thesun.co.uk, time.com