Die video, wat gemaak is in aanloop tot die Kersseisoen en om met Burberry se 160ste herdenking saam te val, vertel die verhaal van die modehuis se stigter, Thomas Burberry, wat sy moderyk begin het deur soldatejasse vir soldate tydens die Eerste Wêreldoorlog te maak.

Domhnall Gleeson (General Hux in Star Wars: The Force Awakens en Billy Weasley in die Harry Potter-flieks) vertolk die rol van die agtermekaar, sjarmante Thomas Burberry en Sienna Miller speel sy vrou.

Dominic West (van The Wire en The Affair-faam) speel sy pel, die ontdekkingsreisiger Ernest Shackleton, en Lily James van Cinderella-faam speel die rol van ’n vlieënier wat op die bekende Britse vlieënier Betty Kirby-Green gegrond is.

Asif Kapadia, wat die dokumentêr Amy, oor die wyle sangeres Amy Winehouse, se regie verlede jaar behartig het, het die advertensie regisseer.

“Die Burberry-advertensie het my koue rillings gegee. Kan dit asseblief ’n fliek word,” het een gebruiker getwiet. Nog een het laat hoor: “Hoekom is die nuwe Burberry-advertensie nie ’n fliek nie? Ek was nog nooit so meegevoer deur ’n advertensie nie.”

Kyk na die advertensie om te sien waaroor al die bohaai gaan.