Melanie Griffith is “trots” op haar dogter nadat sy die hoofrol in die rolprent Fifty Shades of Grey gekry het.

Die 56-jarige aktrise is verheug omdat haar oudste kind, Dakota Johnson (23), uit haar eerste huwelik, met Don Johnson, die gesogte rol van Anastasia Steele in Sam Taylor-Johnson se verwerking van die erotiese roman gekry het.

Toe sy gevra is hoe sy daaroor voel, het die Working Girl-ster, wat met die akteur Antonio Banderas getroud is, aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê: “Wat vra jy? Ek is natuurlik die trotsste ma ter wêreld. Ek is so opgewonde vir haar.”

Die akteur van Fifty Shades of Grey, E.L. James, het Dinsdag op Twitter aangekondig dat die nouliks bekende aktrise saam met Charlie Hunnam in die rolprent sal verskyn.

Sy het getwiet: “Goeie moaning almal. Hou vas aan jul hoed . . . ek is verheug om julle te laat weet dat die pragtige Dakota Johnson ingestem het om ons Anastasia te wees in die rolprentverwerking van Fifty . . .  So . . . Christian . . . Die aantreklike en talentvolle Charlie Hunnam sal Christian Grey in die rolprentverwerking van Fifty Shades of Grey wees.”

Dakota het al verskyn in The Social Network, waarin sy in ’n liefdestoneel saam met Justin Timberlake was, en het klein rolletjies in 21 Jump Street, The Five-Year Engagement en Beastly vertolk.

Daar word gereken dat die vervaardigers die rol aan Dakota gegee het omdat hulle wou hê ’n jong, opkomende aktrise moes die rol van die maagdelike Anastasia vertolk, wat saam met haar S&M-behepte baas, Christian,’n intense seksuele ontdekkingsreis onderneem.