By die Liberty-bal in die Washington Centre het hy sy eerste dans as president met sy vrou, Melania, gehad op die maat van Frank Sinatra se My Way.

Vir die spoggerige geleentheid het Donald ’n klassieke tuxedo aangetrek en sy berugte haredos was soos gewoonlik perfek aangeplak.

Sy 46-jarige vrou, en voormalige supermodel, het elegant gelyk in ’n unieke balrok wat sy saam met die Franse ontwerper Hervé Pierre geskep het, berig MailOnline.

A photo posted by Revista Cromos (@cromoshn) on

Maar die oomblik toe Donald se ouer kinders by hul pa op die dansvloer aansluit, was alle oë op sy oudste dogter, Ivanka, gerig.

In haar prinsesagtige Carolina Herrera-rok het die 35-jarige letterlik gesprankel terwyl sy saam met haar man, Jared Kushner, gedans het.

Ivanka, Donald se tweede oudste kind saam met sy eerste vrou, Ivana, is die uitvoerende vise-president van sy magtige sakeryk, die Trump Organization. En soos meeste vroue in haar pa se lewe het sy ook modelwerk gedoen.

A photo posted by federica b. (@federica.b92) on

Dié ma van drie word beskryf as die "skitterende ster in die Trump-familie" en haar reputasie gaan sekerlik groei wanneer haar pa sy intrek in die Ovaal Kantoor maak.

Sy word wyd gereken as een van die belangrikste persone tydens haar pa se verkiesingsveldtog vir die warmte wat sy teenoor kiesers uitgestraal het.

Ivanka is, soos een kommentator opgemerk het, eintlik Donald se "first lady".

Haar jonger halfsussie, Tiffany (23), het ’n bandjielose blink rok deur die Beverly Hills-ontwerper Simin Taghdiri van Simin Couture gedra.

Anders as haar suster en stiefma is Tiffany se rok nie spesifiek vir die geleentheid ontwerp nie.

"Dit was vir Tiffany alles baie laaste minuut," het Taghdiri aan The Hollywood Reporter vertel. "EK het verlede week ’n e-pos van Tiffany gekry wat gesê het sy en haar ma benodig ’n rok, so toe vat ek rokke wat ek reeds in voorraad gehad het, want ons het nie genoeg tyd gehad om ’n rok van voor af te maak nie. Ek is toe New York toe waar ons twee dae spandeer het om die rokke aan te pas en te verstel."

What an amazing evening! So grateful for all of the support! Looking forward to today ?? Thank you @anne_bowen

A photo posted by Tiffany Ariana Trump (@tiffanytrump) on

Donald se tweede in bevel, vise-president Mike Pence, en sy vrou, Karen, het ook tyd gehad om die kollig te steel op ’n aand wat sekerlik uitputtend was vir die verskillende families.

Nes die president het Mike gekies om ’n eenvoudige tuxedo te dra terwyl sy vrou ’n pragtige blou rok gedra het van die klein rokwinkel Something Wonderful in die familie se tuisstaad Indiana, berig WTHR.

Die onderskeie uitrustings was natuurlik nie al waaroor daar Vrydagaand gepraat is nie. In sy eerste paar uur as president het Donald reeds daarin geslaag om sy kritici skietgoed te gee.

In ’n kort toespraak voor sy eerste dans het die sakereus sy kritici uitgetart. "Ons het vandag ’n goeie dag gehad," het hy begin. "Mense wat nie altyd so vriendelik met my was nie het gesê ons het goeie werk vandag gedoen."

"Hulle het dit gehaat om dit te sê, maar hulle het en ek respekteer dit. Ek respekteer dit, maar ek moet sê die skare het waarlik hul goed van hul taak gekwyt."

"Ek het so na die reën gekyk wat nooit gekom het nie. Jy weet, ons het die toespraak klaargemaak, binne-toe gegaan vir middagete, toe sous dit toe ons buite kom."

"Wonderbaarlik genoeg was dit asof God op ons neergekyk het. Ek sal julle dit vertel."

By die Liberty-bal het die president ons ’n voorsmakie gegee van wat op die wêreld wag tydens sy termyn.

In sy tweede toespraak vir die aand het pres. Trump gespog: "Nou begin die pret."

Bronne: MailOnline, Time.com, The Hollywood Reporter, WTHR, NY Daily News