Die video, wat by Luckhoff Hoërskool in Idasvallei in Stellenbosch geneem is, wys hoe een meisie bo-op ’n skoolbank sit en dan die ander meisie se kop daarteen stamp, haar skop en haar wild aan die hare rondpluk.

WAARSKUWING: HIERDIE VIDEO KAN ONTSTELLEND WEES

Dit is onduidelik wie die video geneem of hoe dit op die internet beland het. Meer as een weergawe van die selfoon-video doen ook die rondte.

Een van die persone wat die video aanlyn gedeel het, Mirencia Williams, sê haar broer en suster het kinders in die skool. Hulle het haar van die video ingelig.

"Hierdie ding moet uit. Ek moes dit deel," het sy aan Huisgenoot gesê.

Intussen het beamptes van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement Maandagoggend die skool besoek om ondersoek in te stel.

" ’n Dissiplinêre verhoor is vir 8 Desember vasgemaak. Die ouers van die oortreder het ons laat weet dat hulle self besluit het om hul kind uit die skool te haal. Nietemin sal die skool voortgaan met die verhoor," het die departement se woordvoerder, Jessica Shelver, bevestig.

Sy het bygevoeg dat die meisie wat in die video aangerand word, berading ontvang.