Sy is Vrydag tot 15 maande tronkstraf gevonnis, alhoewel haar regspan reeds aangedui het dat hulle gaan appélleer, het CNN berig.  

Daar is egter nog slegte nuus vir die 20-jarige Michelle nadat Lynn Roy, die oorlede se ma, ’n siviele eis teen haar ingestel het. Volgens Buzzfeed News eis Lynn $4,2 miljoen (sowat 57 miljoen-rand) se skadevergoeding vir die verkeerdelike doding van haar seun. 

Lynn Roy, ma van die oorlede Conrad Roy, buite die hof. Foto: Getty Images

Michelle het meer as twee jaar gelede, toe sy 17 was, vir Conrad in ’n rits SMS’e aangemoedig om sy eie lewe te neem. Sy het onder meer vir hom gesê: “Vanaand is die aand; dis nou of nooit” en “Jy gaan gelukkig wees in die hemel.”

Conrad Roy, Jr., pa van die oorledene, troos sy dogter Camdyn Roy tydens die verhoor. Foto: Getty Images

Hy het eindelik in die parkeerterrein van ’n winkelsentrum in Fairhaven, Massachusetts, sy eie lewe geneem deur sy kar met koolstofmonoksied op te vul.

Die hof het beslis die feit dat Michelle ook aan ’n gemoedsteurnis lei, nie genoeg versagting bied om haar dade te verskoon nie, het die BBC berig . Die saak skep ook ’n nuwe presedent vir die plaaslike regstelsel aangesien daar geen wet in Massachusetts is wat ’n  persoon verbied om ’n  ander aan te moedig om hul eie lewe te neem nie. 

Bronne: CNN, BBC, BuzzFeed News