’n Jong skoolmeisie se ooglid is amper afgeskeur toe sy ’n bakleiery tussen medeleerders wou keer.

“Twee kinders het met mekaar gestoei en die leerder (die 16-jarige slagoffer) het probeer om hulle te stop,”  het a.o. Solomon Sibiya vroeër vandeesweek gesê. “Een van die leerders het haar toe aangeval en haar bo die linkeroog gebyt.”

Die voorval het verlede Donderdag in Kagiso, Krugersdorp, plaasgevind.

Volgens hom is die meisie se wimpers en die gedeelte van haar ooglid waar dit by die wimpers bymekaarkom geskeur; die lid het slegs aan ’n klein stukkie vel gehang.

Die 18-jarige verdagte het van die toneel gevlug, maar haar skoolsak agtergelaat.

Die slagoffer is hospitaal toegeneem, waar sy teen Maandag nog behandeling ontvang het.

“Die motief vir die aanval word ondersoek en die polisie glo hulle sal binnekort iemand in hegtenis neem,” sê Solomon.

Bron: Sapa