Kirsty Keep is ’n mooi 23-jarige meisie met lang blonde hare en amandelvormige oë. Op die oog af lyk dit of haar hele lewe voor haar lê. Maar sy wil sterf.

Elke dag is vir Kirsty van Maidstone in Kent, Engeland, ’n foltering. En dokters kan nie uitpluis hoekom nie.

Kirsty was 12 jaar oud toe sy deur iets gebyt is wat haar ma gedink het ’n bosluis is. Dit het haar hand laat opswel. Op 16 is haar gesig verlam deur Bell-paralise wat glo voel soos ’n reeks elektriese skokke wat deur haar gesig trek, berig The Sun.

Lees ook: Dis hoe ’n vriendelike, empatiese stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn iemand se lewe kan red

En sowat twee jaar gelede het Kirsty toevalle begin kry. Sedertdien is sy gereeld in die hospitaal en verkeer sy in ondraaglike pyn. In ’n hartverskeurende video wat haar ma, Theresa, op Facebook gedeel het, lê Kirsty in ’n hospitaalbed en kreun van die pyn.

Sy voel asof haar “bene breek” en haar “spiere skeur,” berig MailOnline.

“Kirsty se toestand vererger,” sê haar hulpelose ma. “Sy kan nie medikasie gebruik nie omdat sy so baie naar word. Sy’s moeg, swak en wil sterf. Kirsty sê dis te ondraaglik en wil hê ons moet haar Switserland toe neem omdat sy nie meer hoop het nie. Ek voel asof die tyd ál minder raak.”

Theresa glo die insekbyt het Kirsty se geheimsinnige siekte veroorsaak, maar die verskeie dokters wat hulle oor die jare geraadpleeg het, stem nie saam nie. Lupus is by haar gediagnoseer, maar ’n Londense kenner in dié siekte sê dis nie die geval nie.

“Hy dink nie dis lupus nie,” het Theresa op Kirsty se GoFundMe-blad geskryf. Dis opgestel om geld vir haar toetse en hospitaalbesoeke in te samel.

Lees ook: Bipolêre steuring: ‘Dit raak ons elke dag: van ons opstaan tot ons gaan slaap’

“Sy kry al sewe jaar lank chemo-middels en ander skadelike goed wat sy nooit moes gebruik het nie. Ek is woedend!”

Die jong vrou is na twee dokters in Duitsland verwys wat Theresa laat glo het daar is hoop vir haar dogter. “Die dokter het vandag gesê Kirsty is ’n baie siek jong meisie,” het Theresa aan aanhangers geskryf.

“En sy moet regmaak om te veg vir haar lewe. Daar lê ’n lang pad voor en ons sal by ’n gesondheidsplan moet hou. Sy moet gesonder raak voor sy vir virusse behandel word omdat sy te swak is. Kom ons hoop en bid dis die begin van ’n beter lewe vir Kirsty.”

BRONNE: Metro, Mirror, MailOnline, GoFundMe

Lees ook op Huisgenoot.com:

Die smeulende Justin Serrao se weergawe van Kinders van die Wind sleur luisteraars mee

Foto van ’n pa wat sy siek seun troos word herhaaldelik van Facebook verwyder

Pieter Koen en Cordelia wil harte verower met dié liedjie

Sinead O’Connor ongedeerd gevind ná polisiesoekto

3 kg haarbol uit vrou se maag verwyder ná sy 22 jaar lank haar hare kou