Eers toe ’n ouerpaar van Montes Carlos in die ooste van Brasilië ontstellende sketse in hul vyfjarige dogter se slaapkamer vind, het hulle besef sy word gemolesteer.

Die kleuter se ouers het bekommerd geraak toe sy kla sy wil nie meer haar Engels-lesse by ’n priester bywoon nie. Sy was ook menssku en bang vir mans - selfs haar eie pa, berig die Brasiliaanse nuuswebtuiste Globo. ’n Terapeut het voorgestel hulle soek in haar kamer vir leidrade, en dis dan ook waar hulle die ontstellende ontdekking gemaak het: Sketsies wat wys hoe iemand ’n kind misbruik.

In albei prente wys dit hoe ’n groter figuur bo-oor ’n klein een buk. Die kleiner een lyk hartseer en gepynig.

Intussen het die priester, wat luidens berigte 54 jaar oud is, hom aan die polisie oorgegee en skuld erken. Hy word nou ondersoek vir die beweerde seksuele misbruik. Hy mag ook nie meer as priester werk nie.

Bronne: Elite Daily, Globo, Daily Mail