Maar van maanskyn en rose was daar min sprake. Hy sou haar na bewering genadeloos aanrand uit pure jaloesie.

Scott wou nie glo dat Coral getrou aan hom is nie. Hy het haar selfoon gereeld nagegaan en ook mansvriende van haar Facebook-blad af verwyder. Sy moes selfs uit haar werk bedank.

Tydens een van die voorvalle het Scott gedreig dat hy haar in ’n moeras gaan gooi. Scott het voorgegee dat hy ’n vriend met ’n bakkie sou laat kom om haar na die moeras te vat, dieselfde moeras waar vyf gruwelike kindermoorde deur Myra Hindley en Ian Brady omstreeks 1965 gepleeg is. Dit staan as die Moors Murders bekend.

Coral het geglo dat hy elke woord van sy dreigement bedoel. Maar volgens die staatsaanklaer Duncan Wilcock het Coral uit vrees in die verhouding gebly.

’n Ander keer het hy haar gebyt voor hy haar met ’n kombuismes gesteek het. In Desember het Scott haar vir meer as ’n uur aan ’n stoel vasgebind omdat sy hom glo verkul het.

In Mei het hy haar in haar maag en ribbes geslaan, wat haar met ernstige kneusings gelaat het. Tussen die aanrandings deur is sy uitgekryt vir als wat sleg is en beskuldig van ontrouheid.

Scott het op haar kop gespring, haar probeer verwurg en toe met vuishoue verder bygedam. Coral het na ’n ander vertrek gegaan en begin om haar klere in te pak. Toe voel sy ’n pyn in haar sy. By nadere ondersoek besef sy dat daar baie bloed is. Dis toe dat sy die kombuismes gesien en besef het dat hy haar daarmee gesteek het.

Coral het vir ses dae in die hospitaal beland waar dokters ’n ouer besering aan haar ribbekas gewaar het.

Die polisie het Scott in hegtenis geneem. Hulle het vasgestel dis nie die eerste keer dat hy sy lewensmaat aangerand het nie. Scott het glo aan Coral beken dat hy wel voorwaardelik vrygelaat is op aanklag van gesinsgeweld. Sy het dit as “eerlikheid” aan sy kant ervaar. Regter Timothy Mort het tydens vonnisoplegging aan Scott gesê dat hy Coral geweldige emosionele skade berokken het en dat die aanrandings skrikwekkend moes gewees het. Scott is vir vier jaar tronk toe gestuur. Tydens sy vonnisoplegging het Coral ’n ope brief aan hom in die hof voorgelees wat hom in trane laat uitbars het.

"Jy het altyd gesê jy sal weet wanneer jy grootgeword het, want jy sal dan die volwasse besluit kies. Iets het nou binne-in my verander.

"Ek gaan nie eens probeer om dit weg te steek nie, want jy weet jy het my heeltemal vernietig en in stukke gebreek.

"Vandat ons begin uitgaan het, kon ek geen van my alledaagse dinge doen nie. Dieselfde goed maak my nou vreesbevange en paniekerig.

"Ek eet nie dieselfde nie, slaap nie dieselfde nie of stap dieselfde in die straat af nie - en dis alles te wyte aan jou en jou dade.

"Ek wil vir jou dankie sê omdat ek baie van jou geleer het en jy my in myself laat glo het. Ek sal nooit weer dieselfde meisie wees nie, maar dis dalk nie so ’n slegte idee nie.

"Ek is ’n sterk mens, binne en buite, ongeag hoe jy my afgetakel het. Ek beleef goeie dae en slegte dae en voel konstant ’n dowwe pyn.

"Ek kry terugflitse van daardie dag wat in my kop bly herhaal en ek kan dit nie uitwis nie. Die paniek in jou oë toe jy besef wat gebeur het. Die gewag vir die ambulans wat soos ure gevoel het.

"Scott, jy weet nie wat jy aan iemand gedoen het wat jy veronderstel was om lief te hê nie. Die letsels wat ek het, is emosioneel, geestelik en liggaamlik - en sal my seker lewenslank bybly.

"Ek wens ek kon dit wegneem, maar ek kan nie. Ek hoop enige toekomstige verhouding waarin jy dalk sal wees, eindig nie so nie, of selfs erger. Ek sou jou nooit seergemaak het op soos jy my seergemaak het nie – jy kon my doodgemaak het.'

Het dit al met jou gebeur? Deel jou verhaal met ons, anoniem as jy sou wou, deur dit na web@huisgenoot.com te stuur.

Bronne: dailymail.co.uk, metro.co.uk, briefreport.co.uk