’n Jong meisie is deur plaasboere gered nadat sy in ’n veld in Uttar Pradesh in die noorde van Indië lewend begrawe is, het die plaaslike media Woensdag berig.

Die kleuterskoolkind kon haar kop uit die grond kry en om hulp skree. Boere naby het haar gehoor, berig die Asian Age.

Die voorval het Maandag plaasgevind toe die kind se oom en tante haar geneem het om glo ’n kermis te gaan besoek, het die dagblad berig.

Die meisie het die polisie vertel die twee het haar aangerand en verwurg. Hulle het toe gedink sy is dood en het haar begrawe.

“Ons het haar met ons hande probeer uitgrawe sodat sy nie seerkry nie, maar teen daardie tyd het sy weer haar bewussyn verloor,” het ’n getuie genaamd Ramrati gesê. Sy is hospitaal toe geneem en later ontslaan.

Die polisie soek die verdagtes.