Betowerende swart rok – jip!

Hemelhoë stiletto’s – aangetrek! Hare en grimering perfek – reg! en reg!

Alyssa Bordelon van New Orleans in die VSA, ’n gebruiker van Twitter, was so ingenome met haar voorkoms vir ’n aandjie uit dat sy besluit het om ’n selfie daarvan met die ganse wêreld te deel.

“Op pad om te gaan uiteet, want ek het ’n verskoning gesoek om dit te dra," het sy langs die foto getwiet.

Maar . . . dalkies moes sy eers haar kamer ’n bietjie opgeruim het.

selfiegroot

Die toestand waarin die jong vrou se slaapkamer op die agtergrond van haar sexy kiekie was, het die sosiale netwerk die horries gegee.

“My ma sou sê: ‘Jy gaan nêrens voor hierdie dekselse kamer nie skoon is nie,’” was die reaksie van een van die gebruikers.

Nog een het geskryf: “Goeie genugtig, kyk net daai kamer. Ek bid vir wie ook al met jou trou.” Een volgeling met ’n arendsoog het dit selfs reggekry om die een of ander knaagdier tussen die rommel op te merk – en dit lei toe natuurlik tot ’n speletjie van “Ek sien” op Twitter.  

Daar was natuurlik ook memes . . .   Dit het gelyk asof party kommentators baie meer bekommerd was daaroor dat daar ’n paar skoene op die vloer rondlê wat beter by haar uitrusting sou pas as die bleek paar wat sy aangehad het.  

Dit lyk asof Alyssa haar nie aan al die drama gesteur het nie. Sy het trouens ’n veldtog begin om te help met die finansiering van haar opleiding – sy het haar volgelinge belowe sy sal haar kamer aan die kant maak as hulle geld skenk. En, glo dit as julle wil, sy het reeds sowat R900 ontvang! Sy kort nog net R145 000 om haar doel te bereik …