Durban –

Die meisie het vermoedelik by ’n venster van haar gesin se woonstel uitgeval.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê paramedici was op pad terug na hul stasie toe omstanders hulle in Gillepsie-straat in Durban voorkeer.

“Met ondersoek het die paramedici ’n klein skare mense op die sypaadjie sien saamdrom om die lewelose liggaam van die meisie.”

Sy is op die toneel dood verklaar terwyl haar ma vir skok behandel is.

“ ’n Uiters geskokte ma het aan die paramedici veruidelik die meisie en haar ander kind het in die woonstel gespeel toe die ongeluk gebeur. In hierdie stadium is dit nog nie duidelik hoe die kind by die venster uitgeval het nie,” het Werner in ’n verklaring gesê.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Metropolisie het die gebied afgesper terwyl hulle gewag het dat ondersoekbeamptes die toneel aandag gee.

Bron: News24

Lees ook: Sewejarige verdrink in Margate-swembad