’n Selfoonvideo met skokkende ooreenkomste met ’n onlangse boelie-aanval in Randfontein, Johannesburg, het die lig gesien.

Dit wys hoe Kia Young (14) deur ’n ander meisie voor ’n groep jillende skoolmeisies op die grond neergegooi word. En tog is Kia die een wat van skool moes verander.

Die voorval in Staffordshire, Brittanje, het Kia met rugpyn, krapmerke en geskeurde klere gelaat, berig MailOnline.

Kia is aangeval deur ’n 15-jarige meisie, wie se naam nie bekend gemaak is nie, en wat sy sedert haar laerskooldae ken. Kia het maar ses weke tevore by die skool aangesluit, maar het die skool verlaat uit vrees vir nog aanvalle.

Kia sê ’n groep meisies het vir haar ’n rits gemene boodskappe op Facebook gestuur die dag voor haar beproewing. Sy het hulle op sosiale media geblokkeer en dit het hulle uitgelok om die afknouery die volgende dag te verskerp.

“Teen aandetetyd het ek saam met twee vriendinne op die gras gaan sit om ’n geskiedenisboek te lees toe die groep meisies nader stap.

“Ek het opgestaan en ’n meisie het gesê iemand gaan my slaan. Ek het probeer wegstap en dis toe dat ’n ander meisie my aanrand. Sy het my begin slaan.

“Ek was doodbang, maar ek kon nie van haar af wegkom nie en al haar vriendinne het haar aangehits om aan te hou.”

Agterna het Kia die voorval by ’n onderwyser aangemeld en haar ouers gebel om haar te kom haal. Sy was so getraumatiseer dat sy “in my slaap gehuil het en heelnag naar was”.

Toe sy weer sien, is ’n video van die aanval op haar op Facebook en SnapChat gedeel en het dit soos ’n veldbrand versprei. Sy sê selfs haar ouma het dit gesien.

Eers het Kia vreesbevange en verneder gevoel, maar toe besluit om die bul by die horings te pak. Sy het die video op haar eie Facebook-blad gedeel om “te wys wat regtig in skole gebeur”. Die meeste van Kia se vriende het haar gesteun, maar sy het ook “haatpos” ontvang van mense wat sê sy soek aandag.

Ondanks die videobewys teen haar aanvaller, is die skuldige net drie dae uit die skool geskors en deur die polisie gewaarsku.

Kia se ma, Sharon (41), eis dat die skool die boelie permanent skors.

“Ek het gehuil toe ek die video sien. Dit het my laat naar voel om al die meisies – Kia se beste vriendin inkluis – te sien rondstaan en niemand doen iets om haar te help nie,” het sy gesê.

“Waar was die onderwysers toe sy aangeval is? Ons moet sterker standpunt inneem teen afknouery in skole en die ouers aankla as die kind minderjarig is.”

Bronne: The Sun, MailOnline