Volgens die studie ontvang Amerikaanse vergiftigingsentrums jaarliks 10 000 oproepe weens verkeerde medisynedosisse wat aan kinders toegedien word.

Luidens die studie is ouers wat teelepels of eetlepels gebruik meer as 2 keer meer geneig om die verkeerde hoeveelheid medisyne vir hul kind te gee.

Kinders is gevoeliger vir medikasie as volwassenes, en selfs ’n klein fout in die dosis kan probleme veroorsaak, waarsku die navorsers. “Selfs 1 ml kan die toksisiteit verhoog.”

Maak so met medisyne

Maak seker jy gee jou kind die regte medisyne.

  • Gebruik net medisynelepels of -koppies om die medisyne mee af te meet. Moenie gewone koppies, teelepels of eetlepels uit jou kombuis gebruik nie.
  • Bel jou dokter of apteker as jy onseker is oor hoeveel medisyne jou kind moet neem.
  • Wees versigtig om vir jou kind meer as een soort selfmedikasie te gee. Daar is dalk ’n bestanddeel wat in albei voorkom en dit kan gevaarlik wees vir jou kind.
  • Maak seker jy lees die etikette op die medisyne deeglik. Dit behoort aan te dui hoeveel jou kind op ’n slag moet inneem en hoe gereeld.
  • Moenie familielede se voorskrifte meng nie.
  • Moet nooit vir kinders medisyne gee wat vir volwassenes bedoel is nie.

Hou medikasie veilig

  • Vra die apteker om dit in ’n kindervaste houer te bêre wanneer jy jou kind se medisyne koop.
  • Hou alle medisyne buite die bereik van kinders, verkieslik in ’n medisynekabinet wat kan toesluit.
  • Onthou dat lig en vog die aktiewe bestanddele in jou medikasie kan beïnvloed; daarom is jou badkamerkassie nie die ideale plek daarvoor nie, want die stoom van ’n bad of stort kan maklik deur die kassie se gleuwe trek.
  • Gooi ou medisyne weg. Dit kan toksies wees as jy dit ná die vervaldatum gebruik of vir kinders gee.

As jou kleinding nie sy medisyne wil drink nie

  • Die meeste kindermedisyne bevat stroop om dit lekkerder te laat smaak. Gee dit met ’n medisynelepel, drupper of inspuiting vir jou kind in.
  • Laat jou kind sy neus toedruk wanneer hy die medisyne drink. Dit verminder sy smaakvermoë.
  • Meng vloeibare medisyne met ’n ander vloeistof, soos heuning.
  • Moenie medisyne in ’n drankie soos tee gooi nie. Dit sal net tot in die onderkant van die beker afsak en jy gaan nie weet of jou kind die regte hoeveelheid daarvan inkry nie.
  • Beloon jou kind met sy gunstelingdrankie nadat hy sy medisyne gedrink het.
  • Druk tablette fyn en meng dit met heuning, konfyt of roomys. Let wel: moet  kapsules nooit oopmaak nie.

- Suzaan Hauman

Bronne: webmd.com, safemedication.com, medicineabuseproject.org, mirriamstoppard.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.