Eers was dit Sizakele Khumalo. Toe Kate, Nkosazana en Nompumelelo. En nou het pres. Jacob Zuma onlangs weer by ’n tradisionele huweliksplegtigheid in Nkandla, KwaZulu-Natal, vrou gevat.

Die president se vyfde vrou is Thobeka Madiba (37), die finansiële bestuurder by ’n selfoonmaatskappy in Durban. Hy het haar jare gelede in ’n bank ontmoet en hulle het reeds drie kinders.

En dis dalk nie lank nie of pres. Zuma vat al weer vrou. Hy het reeds lobola betaal vir Gloria Ngema, volgens berigte ’n werknemer by die rekenaarmaatskappy IBM. Kate het jare gelede selfmoord gepleeg, Nkosazana Dlamini-Zuma het van hom geskei, en dit laat ons president met drie vroue en ’n vierde op pad. En, sê kenners, solank pres. Zuma (68) die geld het om lobola te betaal, is daar geen perk op hoeveel vroue hy mag trou nie.

“Pres. Zuma is ’n belangrike man,” sê eerw. Moses Twala, ’n kultuurwerker by die Kara-instituut vir die ontwikkeling van die Afrika-erfenis in Johannesburg.

“Dit is vir hom belangrik om baie kinders te hê en daarom het hy baie vroue nodig.” Moses verwelkom dit dat iemand so prominent soos die president poligamie beoefen.

“Dit is ’n eeue oue Afrika-tradisie wat sal bly voortbestaan,” meen hy. En as mense verstaan dat dit deel is van die Afrika-kultuur, sal hulle dalk minder daaroor frons. Maar die mense wat wel daaroor frons, is oorwegend die vroue wat uit daardie kultuur kom . . .

Die meeste Suid-Afrikaners is trouens glad nie beïndruk deur die oeroue gebruik van poligamie nie. Altesame 74 persent van Suid-Afrikaners meen poligamie is onaanvaarbaar, toon ’n studie wat verlede Maart gedoen is. Net 18 persent van die deelnemers vind geen fout daarmee nie. Neil Higgs van die marknavorsingsmaatskappy TNS sê veral vroue voel ongemaklik met die idee van meer as een vrou. Altesaam 80 persent van die swart vroue wat daaroor uitgevra is, het hulle daarteen uitgespreek, en byna die helfte van die swart manlike deelnemers het met hulle saamgestem.

Meer hieroor in Huisgenoot van 14 Januarie.

Wat dink jy hiervan? Gee jou mening in die kommentaarveld hieronder.