Hy besit nie ’n televisie of radio nie, en koop nie koerant nie; daarom weet hy nie wat die staat se saak teen Oscar Pistorius is nie. Hy volg ook nie eintlik die saak nie.

So het Roger Dixon vanoggend tydens die tweede dag van sy kruisondervraging aan adv. Gerrie Nel gesê.

Minstens ’n derde van die 33 mense of instansies wat hy as @SunsetClivia op Twitter volg, het met nuus te doen. Van hulle is joernaliste, soos Barry Bateman, wat Oscar se verhoor elke dag bywoon, en Mandy Wiener, wat daagliks oor die Paralimpiese held twiet. Ander is nuusorganisasies soos EyeWitnessNews, BBC World en The Independent, wat almal joernaliste in die hof het.

Roger het al selfs ’n twiet van eNCA oor die verhoor hertwiet.

Hy het vanoggend op Facebook geskryf: “Derde dag in die hof vandag. Kom ons sien hoeveel van my kredietwaardigheid, integriteit en professionele reputasie word geruïneer. Dit is moeilik om hulle te laat glo omdat hulle nie luister nie, want dit is nie wat hulle wil hoor nie. Ná dit, bier!”

- Hilda Fourie