Nie net rugbykenners en oudspelers het gister die aankondiging van Allister Coetzee as die nuwe Springbok-afrigter verwelkom nie; sy dogters, Mariscka en Melissa Coetzee, het hulle ook tot Twitter gewend om uit te druk hoe in hul noppies hulle met hul pa se aanstelling is. “Meer trots op jou, kan ek nie wees nie, pappa. Laat die wipwarit begin!” het Mariscka getwiet.

Haar ousus, Melissa, het kort op haar hakke ook ’n twiet oor Allister die kuberruim ingestuur toe haar pa se naam boaan op Twitter begin gons: “Dis wonderlik, Pa. So strots!”
Rugbyspelers en bekendes het ook positief oor Allister se nuwe rol getwiet. “Geluk, Allister Coetzee. Ek het volle vertroue in jou om ons rugby tot sy volle potensiaal te laat blom. Ons ondersteun jou ten volle,” het Zelda la Grange, oudpres. Nelson Mandela se destydse persoonlike assistent geskryf.
“Welgedaan, coach Toetie, ons nuwe Bok-afrigter,” het Breyton Paulse, gewese Springbokvleuel laat hoor. “Komaan, Suid-Afrika, kom ons ondersteun ons man en ons span met trots en eer.”
Corné Krige, gewese Springbok- en WP-kaptein was ewe ingenome: “Ek dink Allister Coetzee is ’n wonderlike aanstelling. Hy verstaan Suid-Afrikaanse politiek en hy weet hoe om ’n wonderlike omgewing vir ’n span te skep.”
Vanuit ’n ander oord het die bekende krieketspeler, Alviro Petersen ook sy gelukwense aan Allister oorgedra.
– Almarie Wessels

Ander stories op Huisgenoot.com

Klop só lag-lag jou hoofpyn

Gucci-advertensie verbied oor ‘ongesond maer’ model

‘Vet Vincent’ die worshond skud die kilo’s af – en jou troeteldier kan ook

Bok-legendes en rugbykenners sê hul sê oor nuwe Bok-breier