In die volgende 12 weke volg kykers nege swanger vroue en sien hoe hulle en hul mans, kêrels of lewensmaats die tweede en derde trimesters van hul swangerskap se hoogte- en laagtepunte saam beleef. Daar gaan gelag en gehuil word en aan drama gaan daar nie ’n tekort wees nie!

Belangstellendes kan ook die webtuiste, www.negemaande.co.za, besoek vir wenke en praktiese advies oor swangerskap, moederskap en selfs interaktiewe pret. Die nege mammas gaan daagliks en weekliks agter hul rekenaars inskuif en hul wel en weë aanlyn met kykers deel. Kykers kan ook bydra tot die deelnemers se swangerskap-ervaring deur staaltjies en raad uit te ruil en hulle moed in te praat; swangerskap is nie kinderspeletjies nie. Skakel vanaand in op kanaal 144 vir hierdie uitsonderlike nuwe reeks.

Hier is die nege paartjies:

Nikita (16) en Dylan (18)

[caption id="attachment_41602" align="aligncenter" width="516"]Nikita van Onselen (16) en Dylan de Leeu (18) Nikita  (16) en Dylan (18)[/caption]

Soos baie van vandag se tieners het Nikita en Dylan op Mxit ware liefde gevind. Die liefde het behoorlik geblom en kort voor lank het die verliefdes per ongeluk oor die tou getrap. Hierdie nuus het ’n geweldige familiedrama ontketen en Dylan moes met ’n bewende broek aan Nikita se pa verduidelik wat gebeur het.

Toe die stof eindelik gaan lê, is besluit Nikita gaan die baba hou, maar ook – met die ondersteuning van haar ouers, die skoolhoof en onderwysers – haar matriekjaar voltooi.

Van trou en saamwoon is daar nie sprake nie en Nikita se pa hou voet by stuk dat sy eers op 18 haar eie potjie moet begin krap. Die erns van ouerskap het nog nie by die paartjie ingesink nie; in hierdie stadium dink Nikita dit is oulik om swanger te wees en sy sien uit daarna om eendag saam met haar kind te gaan partytjie hou.

Intussen groei die konflik tussen Nikita en Dylan se ouers; albei kante gee mekaar die skuld vir die onbeplande swangerskap. Sal die families hul probleme uitsorteer, of gaan die jong verliefdes se verhouding in die slag bly?

Chantelle (18) en Daniel (23)

[caption id="attachment_41603" align="aligncenter" width="512"]Chantelle (18) en Daniel Foord (23) Chantelle (18) en Daniel (23)[/caption]

Chantelle wou nog altyd ’n baba gehad het, maar het nooit verwag dat sy ’n dubbeldoor verrassing sou kry nie!

Die jong getroude paartjie woon tans saam met Daniel se ouers in ’n meenthuis wat net te klein gaan wees vir twee stelle loopringe, babastoeltjies en al die ander goed wat babas nog nodig het.

Chantelle is oorspronklik van Natal en het drie jaar gelede Centurion toe getrek. Hier het sy Daniel by ’n jeugbyeenkoms in haar toekomstige skoonpa se kerk ontmoet en dit was liefde met eerste oogopslag. Hulle is kort daarna getroud.

Vandag is die verhouding nie meer die sprokiesverhaal wat dit aan die begin was nie; finansiële probleme en onsekerheid dryf ’n wig tussen hulle in. Chantelle is werkloos en Daniel is ’n voorman by ’n konstruksiemaatskappy. Tans werk hy hom stokflou om die spaarvarkie vol te kry en sy lang ure en beperkte tyd saam met sy vrou veroorsaak spanning in hul verhouding.

Hulle besef hulle is jonk en dat dit nie maklik gaan wees om ’n tweeling groot te maak nie, maar hoop dat hulle genoeg energie en lewenslus het om hierdeur te kom.

Om een baba op so ’n jong ouderdom groot te maak is ’n geweldige aanpassing; twee babas kan die einde van hierdie verhouding beteken. Gaan Chantelle en Daniel dit oorleef?

Riolla (25) en Shelton (30)

[caption id="attachment_41604" align="aligncenter" width="511"]Riolla Fredericks (25) Riolla Fredericks (25)[/caption]

Langafstandliefde is taai op jou tissues! Vra maar vir Riolla. Sy en haar familie is geswore Kapenaars wat nou in Boksburg woon, maar hulle harte trek nog daagliks ’n met punt Mitchells Plain toe . . . veral Riolla s’n.

Haar geliefde Shelton woon in Rocklands en hy doen sy bes om so gou moontlik Gauteng toe te trek om by sy swanger meisie aan te sluit.

Riolla, ’n reisagent, en Shelton, ’n ingenieur, was jare lank net goeie vriende, maar hormone het mos maar ’n manier om ’n goeie vriendskap om te krap! Vandag verwag die twee hul eersteling.

Riolla hou niks daarvan om ’n grasweduwee te wees nie, maar dit is hopelik nie meer lank voor sy en Shelton in die kothuis op haar suster se werf intrek nie. Sy is vasbeslote om natuurlik te kraam en beplan ’n groot troue sodra die baba gebore is.

Anne-Marie (29) en Rudene (26)

[caption id="attachment_41621" align="aligncenter" width="655"]Anne-Marie (29) en Rudene du Preez (26) Anne-Marie (29) en Rudene du Preez (26)[/caption]

As tieners het Rudene en Anna-Marie hard probeer om verhoudings met die buurt se seuns aan te knoop, maar dit het nie vir die twee dinamiese dames gewerk nie.

Op 17 het Rudene ’n pasmaattoets op ’n webtuiste voltooi en in ’n oogwink is het die kuber-Kupido gewys Anne-Marie en Rudene kliek meer as 83 persent. Die tweetjies het die statistiek vertrou en vandag, nege jaar later, is hulle wettig getroud en maak hulle ’n tweejarige bulletjie groot.

Ná ’n paar onaangename ervarings met die spermbank en ander soortgelyke instansies, het die twee besluit om hul gay mansvriende te vra om sperm te skenk.

Soos baie ander paartjies met vrugbaarheidsprobleme was daar baie trane en teleurstelling voor die twee pienk strepies op die stokkie hul lewens verander het.

Anne-Marie sal na verwagting in Augustus die lewe skenk aan ’n dogter en hulle het saam op ’n watergeboorte besluit.

Rudene is die egpaar se seun se biologiese ma en sy vertel gemaklik oor die diskriminasie wat hulle soms nog ervaar en hoe hulle alles met die hulp van Bo te bowe kom.

Orals teen die mure van hul huis is hartjies, kruise en boodskappies soos “hier woon liefde”. Dit is immers die eerste gevoel wat enigiemand kry sodra hulle oor hierdie lieflike gesin se drumpel stap.

Nadia (36) en Eric (31)

[caption id="attachment_41606" align="aligncenter" width="581"]Nadia (36) en Eric Booyse (31) Nadia (36) en Eric Booyse (31)[/caption]

Nadia en Eric is ’n moderne egpaar en glo in alles wat natuurlik, organies en “groen” is. Dit is dus geen verrassing dat Nadia die enigste van die nege mammas is

wat braaf genoeg is om normaal, sonder enige pynverdowing en boonop by die huis wil kraam nie.

Eric is ’n bietjie skrikkerig vir die plan, maar glo met behoorlike navorsing en beplanning kan dit werk.

Nadia is ’n besige kantoorbestuurder, joga-instruktrise en die mamma van ’n woelige vierjarige dogter. Tog glo sy nie aan die maklike of vinnige manier van dinge doen nie . . . geen onnodige medisyne, lugbevogtigers of weggooidoeke vir haar nie!

Nadia wil ander toekomstige mammas aanspoor om normaal die lewe te skenk en meer eko-bewus te wees.

Hermien en Friedel (32)

[caption id="attachment_41607" align="aligncenter" width="550"]Hermien en Friedel Wolff (32) Hermien en Friedel Wolff (32)[/caption]

Hermien en Friedel is voltydse studente en bekroonde violiste wat in die Pretoriase Simfonie-orkes speel.

Hermien bestudeer die rekenarisering van verpleegkundige prosesse en Friedel is besig met ’n groot vertaalprojek in Ierland.

Hermien werk ook nagskof as ’n teatersuster. Haar swangerskap was ’n groot verrassing vir die paartjie, wat eerder wou wag voor hulle met ’n gesin begin.

Hulle het definitief ook nooit beplan om ’n Skype-huwelik te hê gedurende hierdie opwindende tyd in hul lewe nie.

Gelukkig is Hermien se beste skoolvriendin daar om die trane af te vee wanneer die verlange te veel raak en hulle verwag boonop hul babas op dieselfde datum.

Hoe sal Hermien hierdie spesiale tyd sonder die teenwoordigheid van haar man hanteer? Sal hy betyds terug wees vir die geboorte van hul eersteling?

Amore (27) en Dino (30)

[caption id="attachment_41614" align="aligncenter" width="250"]Amore (27) en Dino de Guisti (30) Amore (27) en Dino  (30)[/caption]

Amore en Dino het twee seuns. Die jongste is nog nie eens ’n jaar oud nie, maar die paartjie het besluit om aan te hou probeer tot hulle ’n dogter kry.

Amore verwag nou hulle derde baba en al is swangerskap nie noodwendig meer ’n nuwe ondervinding nie, is dit tog ’n onseker tyd. Boonop is ’n ongeneeslike siekte met sy geboorte by hul oudste seun gediagnoseer; die beenontwikkeling in sy laerug is belemmer. Die toestand kan wel met gereelde behandeling verbeter word.

Sal hul derde baba ’n dogtertjie wees, en sal die baba hierdie seldsame siekte vryspring?

Nadene (40) en Pieter (40)

[caption id="attachment_41610" align="aligncenter" width="539"]Amore (27) en Dino de Guisti (30) Nadene (27) en Pieter  (30)[/caption]

Nadene en Pieter het al op skool verlief geraak, saam studeer, getrou en toe weer gaan studeer.

Toe die suksesvolle paartjie hul oë uitvee, het hulle die hoogste sport in hul loopbaanleer bereik, maar basies vergeet om met ’n gesin te begin.

Vriende en familie het al ophou vra en skimp oor die moontlikheid van ’n baba toe hulle verlede jaar besluit dit is nou of nooit. Al is Nadene reeds 40 jaar oud, het sy sonder moeite swanger geraak. Hierdie georganiseerde paartjie is nie mense wat enigiets aan die noodlot oorlaat nie en aangesien Nadene as ’n “ouer” mamma beskou word en boonop ’n nierprobleem het, word elke moontlike voorkomende toets gedoen. Selfs die geboorte is in die fynste besonderhede beplan.

Hoe ervaar ’n ouer ma die swangerskap en geboorte van haar eerste kind? Is dit moeiliker as vir jonger vroue?

Monique (24) en André (26)

[caption id="attachment_41624" align="aligncenter" width="538"]Monique Burger (24) en André Minnaar (26) Monique Burger (24) en André (26)[/caption]

Monique is ’n jong lugwaardin en die kantoorbestuurder van ’n privaat lugvaartmaatskappy. Op 24 het sy al deur die hele Afrika gereis. Sy is ’n sterk vrou wat weet wat sy wil hê . . . behalwe wat kinders betref. Haar swangerskap was heeltemal onbeplan en om dinge erger te maak is sy net nie een van daardie vroue wat blom tydens swangerskap nie.

André, haar kêrel, het ingespring en vir haar ’n nuwe huis gebou en hulle het onlangs daar ingetrek. Sy en André wil eendag trou, maar niks jaag hulle nie en almal sien uit na die koms van hul klein wonderwerk.