'n Spanningsbelaaide namiddag in Pretoria het verkeer naby die Meadows-kompleks in Moreleta Park tot stilstand gedwing. Vroeër is motoriste ook gewaarsku om die gebied te vermy vanweë skote wat afgevuur is.

eNCA het 'n kort tydjie gelede met David Miller, 'n woordvoerder van SAPD, gesels om meer omtrent die voorval te wete te kom.

Hy het bevestig dat twee polisielede, asook 'n sekuriteitsbeampte, as gyselaars aangehou word. Tot dusver kon daar nie vasgestel word of daar meer mense betrokke is nie. Die spesiale taakmag is op die toneel.

'n Helikopter is ook vroeër ingespan by die toneel.
Daar bestaan ook die moontlikheid dat twee mense wel reeds tydens die gyselaarsdrama doodgeskiet is.
Intussen is die media en toeskouers versoek om verder terug te staan van die toneel.
Twitter-gebruikers het ook hul skok uitgespreek rondom die voorval.

Vroeër vanmiddag

Skote is afgevuur gedurende ’n gyselaarsdrama wat tans in die ooste van Pretoria afspeel. ’n Gewapende man het Woensdagmiddag losgebrand op inwoners by die Meadows-kompleks in Moreleta Park, berig die Pretoria Record. Twee mense is reeds raakgeskiet, het Anton Nieuwoudt, die bestuurder van die sekuriteitsmaatskappy Brinant, gesê. Inwoners het omstreeks 14:00 begin skote hoor.
"Twee mense lê op die grond in die kompleks," het Anton gesê. "Hul toestand is nog nie bevestig nie." Anton het bygevoeg 'n sekuriteitsbeampte en 'n polisieman word nog binne 'n huis gyselaar gehou. Dis onseker of die ander inwoners van die kompleks ook by die situasie betrek word.
Pretoriase polisie het nog nie die situasie bevestig nie, berig EWN. "Die situasie is sleg," het 'n ooggetuie aan die media gesê. "Hulle het 'n helikopter (in die kompleks) geland en hulle is vanselfsprekend besig met onderhandelinge. Hulle laat niemand toe om die kompleks binne te gaan of te verlaat nie."

Die polisie taakmag het pas op die toneel aangekom.