Hulle gooi haar op ’n bed in ’n sel neer, tronkbewaarders wat al haar klere van haar lyf af stroop tot sy kaal is, behalwe vir die kleefband oor haar privaatste dele. Dan spring sy tot op die tralies met haar bene wyd oop en minute later begin sy kafoefel met ’n vroulike gevangene wat haar intiem liefkoos.

Bespreek vir Skouspel!

Later laai ’n medemisdadiger haar op in ’n voertuig waarop ’n vulgêre naam vir die vroulike geslagsdeel staan, en die twee ry weg op ’n moordtog.

Dit klink soos iets uit ’n swak porno-fliek. Iets wat tog net nie by jou tiener moet uitkom nie, en die hemel behoed ons, tog glad nie by die jongeres nie. Maar wag ’n bietjie – hulle het dit dalk reeds gesien.

Want dié tonele kom uit die nuwe musiekvideo van twee van die bedryf se grootste sterre, jong vroue van wie miljoene aanhangers wêreldwyd nie genoeg kan kry nie. Dis Lady Gaga en Beyoncé Knowles wat so wild daar kafoefel, in die video van een van Lady Gaga se nuwe liedjies, Telephone.

Dié eksplisiete video wat amper 10 minute lank is, is verbied op TV, maar dit beteken nie jou kinders kan dit nie sien nie. Dis op YouTube vir die hele wêreld om te aanskou en vier dae nadat dit uitgereik is, het 15 miljoen mense al gaan kyk.

Dit is die tweede video van die twee sangers saam – die eerste was verlede jaar se Videophone waarin die skraps geklede twee vroue heel suggestief gesing het: Watch me on your videophone... Dit klink dalk relatief on-skuldig – maar net tot jy onthou van die vlaag sekstekste wat tieners deesdae vir mekaar stuur, alles van sekspraatjies tot pornografiese foto’s en video’s.

Die probleem, sê die kenners, is dat die glansmense verplig voel om seks te gebruik om hul verkope op te stoot, ongeag die skade wat dit aan jong aanhangers berokken. Lady Gaga is een van die ergstes – dit nogal nadat sy vroeër ewe heilig verklaar het: “Die laaste ding wat ’n jong vrou nodig het, is nog ’n beeld van ’n sexy pop-ster wat vol olie in die sand rol terwyl sy haarself liefkoos.”

Seks verkoop enigiets, sê Gina Vivinetto, ’n gewilde Amerikaanse musiekresensent. “Maak nie saak hoe ernstig ’n kunstenaar haar werk eens opgeneem het nie, maak nie saak hoe goed haar stem of haar talent is nie, sy moet die een of ander tyd soos ’n slet begin lyk.”

Die dae toe feitlik net Madonna seksskokke gelewer het, is lankal verby. Nou is dit alledaags om sterre in niks meer as hul onderklere voor ’n mikrofoon te sien nie, en kammaseks is oral op musiekvideokanale, die internet en in tydskrifte te sien.

Die sielkundige Linda Papadopoulos het juis in ’n verslag vir die Britse Geestesgesondheidstigting bevind dat meisies stres, angs en ongelukkigheid ervaar omdat hulle gedwing word om te vinnig groot te word. “Vandag se jong mense word nie net toenemend aan hiper-geseksualiseerde beelde blootgestel nie, hulle word ook wysgemaak dat hulle ‘sexy’ en ‘hot’ moet lyk,” sê sy.

Lees die volledige artike in die uitgawe van 25 Maart.