Kyk net daardie spiere! Dié foto’s vertel die verhaal van Bernadine Schwartz se transformasie van ’n “teruggetrokke, onseker vrou” tot ’n “selfversekerde, gelukkige” liggaamsboukampioen.

Boonop is sy nou so versot op die sportsoort dat sy selfs haar werk as die bestuurder van ’n ingenieursfirma laat vaar het.

“Daar is nie ’n kortpad nie. Wanneer iemand jou een aanbied, behoort die gevaarligte te flikker. Om so te lyk verg harde werk en baie selfdissipline,” vertel Bernadine, deesdae ’n fiksheidsinstrukteur in Stellenridge.

Dit beteken om meer as een keer per dag gimnasium toe te gaan vir kardio-oefening en werk met gewigte. Dan moet ’n mens ook ’n baie spesifieke dieet volg . . .

Maar vir haar is dit oor en oor die moeite werd. “My persoonlikheid het heeltemal verander. Voorheen was ek nie ’n vriendelike mens nie, ek weet dit. Ek was so onseker van myself dat dit my optrede beïnvloed het. Ek was jaloers wanneer my man met ander vroue gepraat het – en dit was totaal ongegrond,” bieg sy.

Bernadine vertel haar man, Kevin, het gereeld met gewigte geoefen, maar sy was gelukkig met haar liggaam en het nooit gegaan wanneer hy haar saamgenooi nie. Maar toe beland Kevin in die hospitaal nadat hy hom ooreis het en die dokter beveel aan hy moet saam met ’n vriend of familielid begin oefen.

“Hy het so aan my gekarring dat ek eindelik ingestem het om te probeer.”

Aan die einde van 2008 het die twee toe saam begin oefen. “Dit was vir my baie moeilik, maar tog ook geestelik en fisiek stimulerend.” En die veranderinge was gou sigbaar. “Ek het ál meer selfvertroue gekry. Daarmee saam het ek ál gelukkiger geraak en het die spanning by die huis ook verdwyn,” vertel sy.

Mense by die gimnasium het haar begin vra hoekom sy nie aan liggaamsboukompetisies deelneem nie. “Aan die begin het ek net gelag, maar hoe meer ek daaroor gedink het, hoe aanlokliker het dit gelyk.”

In haar eerste kompetisie, in George, het sy eerste gekom in die liggaamsbou-afdeling vir vroue. Dit was maar die eerste trofee van vele.

In 2010 is sy gekies om aan ’n internasionale kompetisie in Slowakye deel te neem en hier het sy die titel vir super-atletiese figuur gewen.

Vandag is sy ’n gekwalifiseerde fiksheidsinstrukteur, ’n komiteelid by die Internasionale Liggaamsboufederasie en ook ’n beoordelaar by uitdunne. Sy mis glad nie haar vorige werk as bestuurder van ’n ingenieursfirma nie.

“Ek help enigiemand, of hulle nou aan kompetisies wil deelneem en of hulle net beter wil lyk en voel. Om te sien hoe dié meisies hul perspektief oor hulself verander, maak my ongelooflik gelukkig.”

Haar dogter, Donna (15), het onlangs aan haar eerste bikini-kompetsie deelgeneem. “Dit was haar keuse. Ek sal my kinders nooit iets laat doen wat hulle nie wil doen nie,” sê Bernadine. Maar tog sy is baie trots op Donna en dankbaar vir die selfvertroue wat die kompetisie haar dogter gee.

Sy hou daarvan om op die verhoog te poseer. “Dis lekker om mense te wys waaraan jy so hard gewerk het.”

Bernadine geniet dit ook om haar klante te help voorberei vir dié oomblik. Daar is wel soms kritiek van mense wat nie die sport verstaan nie. “Jy hoor baie ‘kyk na daardie vrou met die spiere!’ En ’n mens hoor dit by mans en vroue van alle ouderdomme!”

Maar wanneer sy iemand ’n aanmerking hoor maak oor haar spiere of voorkoms, beskou sy dit as ’n kompliment.

“Mense begryp steeds nie dat vroue ook spiere kan hê en dat dit nie beteken hulle is manlik of wil ’n man wees nie. Ek is baie vroulik en ek hou van spiere. ’n Vrou met ’n goed gevormde liggaam en spiere lyk pragtig.”

Vanjaar neem sy eers ’n blaaskans van kompetisies. “Die voorbereiding vir ’n kompetisie is te intensief. ’n Mens kan nie die oefen- en dieetprogram volhou wat nodig is voor kompetisies nie; jou liggaam sal ineenstort,” maan sy.

Maar sy oefen steeds hard en eet gesond. “Fiksheid is ’n leefwyse!”

KLIK HIER vir die gallery

- Suzaan Hauman