As jy een van 200 000 mense is wat aansoek gedoen het vir ’n eenrigtingkaartjie Mars toe, moet jy jou e-pos dophou: Altesaam 1 058 geesdriftiges is per e-pos laat weet hulle is op ’n kortlys om in 2024 Mars toe te gaan.

Bas Lansdorp, die medestigter van Mars One, ’n Nederlandse organisasie sonder winsbejag wat poog om die eerste menslike nedersetting teen 2025 op Mars te vestig, het die kortlys in ’n mediaverklaring aangekondig.

Dit is nog onbekend of enige Suid-Afrikaners die kortlys kon haal.

Hul projek Mars One het in 2011 die oë laat rek toe hulle Jan Publiek aangemoedig het om aansoek te doen, maar met een groot vangplek: Jy kom nie terug nie. Sowat 200 000 mense het nietemin aansoek gedoen.

Volgens Bas was dit ’n uitdaging om te kies wie ry en wie bly.

“Ons is ongelooflik dankbaar en beïndruk met die aantal mense wat ’n aansoek ingedien het,” sê hy.

“Die uitdaging was wel om aansoekers wat liggaamlik en geestelik sterk genoeg is om menslike ambassadeurs op Mars te word, te skei van aansoekers wat die sending as ’n grap afmaak.

“Party was selfs kaal in hul video-aansoek!”

Die 1 058 gelukkiges sal eindelik tot 24 verminder word; die uitdunne sal twee jaar duur. Vanjaar en volgende jaar sal almal op die kortlys verskeie liggaamlike en emosionele toetse moet ondergaan; as hulle nie slaag nie, is hul kans verby om Mars toe te gaan.

Die hele proses sal moontlik ook in ’n werklikheidsreeks omskep word.

“Ons verwag dat baie van die mense op die kortlys bekendes op hul tuisdorp of in hul land sal word,” sê Bas.

“Dit gaan baie interessant word.”

– Christiaan Boonzaier