’n Rede vir dié verskynsel word nie uit die navorsing gevind nie, en die navorsers het nie stres as ’n faktor in die spesifieke ma’s gesondheid in ag geneem nie.

Tog het navorsers gesê dat die bevindinge kan help met siftingsprosesse en intervensiestrategieë vir vroue wat meer as vier kinders het en moontlik nie bewus is dat ’n hoër risiko vir hartsiekte hulle in die gesig staar nie.

“Swangerskap word beskou as ’n groot gebeurtenis in ’n vrou se lewe, wat gewoonlik eindig met die baba se geboorte,” sê die hoofnavorser, Monika Shangavi, ’n kardioloog by die mediese sentrum van die Universiteit van Texas.

“Daar is onlangs ontdek dat die swangerskap ’n blik op die toekoms gee; dit gee insig oor ’n vrou se toekomstige kardiovaskulêre risiko’s, en die veranderinge wat met swangerskap gepaardgaan, het dalk oor die lang termyn ’n inwerking op ’n vrou se gesondheid ,” het sy aan joernaliste gesê.

Die studie was die eerste van sy soort om ondersoek in te stel na vroeë aanpaksel in die bloedvate, wat mettertyd bloedvloei belemmer en lei tot beroerte en hartaanval.

Die studie het meer as 1 600 vroue van Texas ingesluit. Hul gemiddelde ouderdom was 45, en 55 persent van hulle was swart.

Die groep met die minste aanpaksel in hul bloedvate was dié met twee tot drie kinders, of lewende geboortes, wat die studie nagevors het.

Die voorkoms van subkliniese aterosklerose by vroue met twee tot drie kinders was 11 persent. By vroue wat vier of meer kinders het, was dit 27 persent, meer as dubbel die getal.

Navorsers het ook ’n hoë voorkoms (15 persent) van verkalkte are gevind onder vroue met een of geen kinders.

Swangerskap veroorsaak heelwat veranderinge in die liggaam, soos ’n verhoging in die hoeveelheid bloed wat deur die hart gepomp word, verhoogde insulienweerstand en hoër cholesterolvlakke. Die navorsers wil die verband ondersoek tussen dié veranderinge en swakker hartgesondheid by sekere vroue.

By vroue met een of geen kinders is Monika en haar medenavorsers nuuskierig of daar ’n onderliggende toestand is wat veroorsaak dat hulle moeilik swanger raak en hulle ook vatbaar maak vir hartsiekte, soos inflammasie, oorgewig, diabetes, hoë bloeddruk of hoë cholesterol.

Nog navorsing is nodig om dié moontlike verband te ondersoek.

Intussen het Monika gewaarsku dat vroue nie hul navorsing moet sien as ’n voorskrif vir hoeveel kinders hulle moet hê nie.

“Terwyl ons gevind het dat die voorkoms van subkliniese aterosklerose die laagste was by vroue met twee tot drie kinders , moet hierdie bevindinge nie gesien word as ’n voorstel vir hoeveel kinders ’n vrou moet hê nie,” het sy gesê.

- Sapa