Meer as twee miljoen mense het deelgeneem aan die  kiesersregistrasienaweek, sê Pansy Tlakula, die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).

“Die eindresultaat was ’n gladde en doeltreffende registrasiepoging waarin 2 512 219 mense by die land se 22 263 registrasielokale gehelp is,” het sy gesê.

“Altesaam 1 088 015, of 43,3 persent, van hulle was nuwe kiesers wat die eerste keer geregistreer het.”

Terwyl sy die media in Centurion toegespreek het, het sy gesê die algehele registrasiesyfer het van 73,6 persent van die stemgeregtigdes tot amper 77 persent toegeneem.

Sy het gesê 1,17 miljoen mense het by ’n nuwe registrasielokaal gaan registreer.

Pansy het gesê die aantal 18- en 19-jariges wat registreer, bly ’n probleem, ondanks ’n toename.

In KwaZulu-Natal het die meeste mense geregistreer, gevolg deur Gauteng, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap.

Pansy het gesê dit is onduidelik of daar nog ’n kiesersregistrasienaweek sal wees. - Sapa