Mojalefa Moss en Zinhle Mhlongo van die U-Care Mediese Sentrum in Park Station moes vinnig op hul voete dink toe paniekbevange sekuriteitswagte by die mediese sentrum inhol en gepleit het dat iemand ’n 44-jarige vrou help.

Die vrou, wat reeds ’n 12-jarige kind het, het glo nie geweet sy is swanger nie, lui ’n persverklaring.

Die vrou het glo onder erge kraampyne deurgeloop by die busterminaal by Johannesburg Parkstasie. Die vrou was onderweg van die Goudstad na Gaborone in Botswana met ’n bus toe die ondenkbare gebeur.

Nadat sy op die bus geklim het, het ’n ander passasier agtergekom sy loop deur onder pyn en toe alarm gemaak by die sekuriteitspersoneel by die busterminaal.

Toe Mojalefa en Zinhle op die toneel kom, was die ma besig om te kraam. Hulle het toe ’n gesonde babadogter op die bus in die lewe help bring met die hulp van nog ’n passasier wat die nodige lig verskaf het om die baba te vang.

Die ma se toestand was onstabiel en ’n ambulans is dadelik ontbied. In die drie uur wat hulle op die ambulans gewag het, het die twee mediese personeellede die vrou stabiliseer.

Luidens die persverklaring is die polisie in kennis gestel van die voorval, maar hulle wou nie betrokke raak nie omdat dit buite hul jurisdiksie gebeur het.

Die ander passasiers wat buite die bus moes wag, se rit is met drie uur vertraag.

Gelukkig was daar ’n gelukkige einde!